|

Delmas-leerders leer om boeliery te bekamp

AfriForum se teenboelieveldtogspan en sy gelukbringer, Matteus, het op 19 September in samewerking met Solidariteit Helpende Hand by die Laerskool Delmas besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van boeliegedrag in skole. Meer as 800 leerders is toegespreek.

AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van die “volle wapenrusting van God”, het diep by die leerders inslag gevind. “Veilige skole bou veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en te hanteer,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum.

“Vir sewe jaar reeds bemagtig ons skole landwyd met hierdie veldtog. Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe,” sê Leandie Bräsler, gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum.

“Onderwysers word nie opgelei hoe om boeliegedrag en alles wat daarmee gepaardgaan te hanteer nie. Daar moet bewusmaking geskep word, sodat onderwysers en kinders ’n beter begrip het van waarom boeliegedrag voor kom en hoe om dit so goed as moontlik te hanteer. Kinders verdien dit om so ryk as moontlik aan inligting te word sodat hulle beter besluite kan maak en vaardighede kan leer wat hulle nie net in hulle kinderlewe kan gebruik nie, maar ook vir wanneer hulle eendag die volwasse lewe betree,” sê Yolandi Singleton, ’n maatskaplike werker en hoof van Helpende Hand se Ons Sentrum in die noorde van Pretoria

Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) het in 2020 berig dat ongeveer een uit elke vyf tieners in die land slagoffers van kuberboelie is, wat hul geestelike gesondheid ernstig kan beïnvloed. Ouers kan kuberboelie bekamp deur hul kinders op te voed en in te lig oor wat kuberboeliery is en waarom dit skadelik is, terwyl hulle oop kommunikasie handhaaf sodat kinders vry voel om enige vorm van boeliegedrag te rapporteer. Deur sagte toesig oor sosialemediagebruik te hou en gepaste privaatheidstellings in plek te stel, kan ouers verseker dat hul kinders veiliger aanlyn verkeer. Daarbenewens kan ouers skermtyd beperk en gesonde aktiwiteite aanmoedig om kinders weg te hou van moontlike boeliery. Ouers moet kinders ook aanmoedig om kuberboeliery te rapporteer en die betrokke boelies te blokkeer, terwyl hulle emosionele ondersteuning bied. Indien nodig, moet professionele hulp gesoek word om die impak van boeliegedrag te verwerk. Hierdie stappe help om ’n veilige en ondersteunende aanlyn-omgewing vir kinders te skep.

Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings