AfriForum gereed om argumente in Konstitusionele Hof te lewer rakende beperkings van SAMRK se bevoegdhede

AfriForum het ’n verklaring by die Konstitusionele Hof geliasseer om pertinente inligting onder dié hof se aandag te bring, na aanleiding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak van 15 Augustus 2024. Dié uitspraak het bevestig dat die SAMRK nie bindende direktiewe mag uitvaardig nie.

AfriForum  versoek in die verklaring om ingelig te word van die hof se besluit om verlof tot appèl toe te staan aan die SAMRK al dan nie. Die organisasie is van voorneme om die nodige stappe te doen ten einde as vriend van die hof toegelaat te word sou verlof tot appèl wel toegestaan word. AfriForum het as vriend van die hof opgetree in die saak wat vroeër vanjaar deur die Hoogste Hof van Appèl aangehoor is. Die organisasie se betoë aan die Hoogste Hof van Appèl is ook aangeheg by die verklaring aan die Konstitusionele Hof.

Die SAMRK se aansoek om verlof tot appèl is op 5 September op AfriForum se regspan beteken. Die kennisgewing het verkeerdelik aangedui dat die burgerregteorganisasie se regspan namens die tweede respondent (AgroData) in die aangeleentheid optree. AfriForum se regspan het versoek dat die kennisgewing onmiddellik reggestel word.

Die kwessie oor die bindende aard van SAMRK-direktiewe sal ’n verreikende impak hê. Dit is van kardinale belang dat die hof nie slegs die SAMRK se standpunte in ag neem nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die staande uitspraak klinkklaar oor wat die grondwetlike bevoegdhede van die SAMRK is en is dit eintlik sinneloos om daarteen te appelleer. “AfriForum is wel deeglik bewus van die implikasies van hierdie saak en sal daarom enduit die grondwetlike orde verdedig.”

Die SAMRK het in Mei 2018 ’n klag ontvang van besetters op die plaas De Doorn Hoek, in Mpumalanga, nadat die eienaars van die grond, AgroData, na bewering in 2016 beperkings op die besetters se toegang tot boorgatwater geplaas het. Die SAMRK het die saak ondersoek en bevindinge gemaak wat uiteindelik nie deur die grondeienaar geïmplementeer is nie. In ’n poging om die voorskrifte te laat afdwing, het die kommissie hom tot die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela gewend. Dié hof het egter in Maart 2022 die SAMRK se aansoek van die hand gewys en beslis dat, hoewel die SAMRK aanbevelings kan maak, hulle nie kon bewys dat alle direktiewe wat deur die SAMRK uitgevaardig word, bindend is nie. In reaksie hierop het die SAMRK die Appèlhof genader om dié beslissing te appelleer. Die Appèlhof het egter die uitspraak van die Mpumalanga Hooggeregshof gehandhaaf.

“Die SAMRK het in die afgelope jare talle omstrede en bisarre bevindinge gemaak en dit is daarom van uiterste belang dat dít nie uit die staanspoor bindend behoort te wees nie,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings