|

Gesamentlike bestuursplan al manier om probleme op Klerksdorp te pak, sê dié AfriForum-tak

AfriForum se Klerksdorp-tak het in reaksie op die voortslepende diensleweringsprobleme in die middestad, ’n skrywe aan die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit gerig met die voorstel om ’n gesamentlike bestuursplan te ontwikkel. Die munisipaliteit, plaaslike ondernemings en burgerlike organisasies soos AfriForum kan almal insae lewer op die plan en daardeur gedeelde verantwoordelikheid neem vir die welstand en vooruitgang van Klerksdorp.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê dit het die afgelope tyd duidelik geword dat hoewel die munisipaliteit poog om diensleweringskwessies so gou moontlik te pak, steek daar dikwels net nóg probleme kop uit. Dit maak dit bykans onmoontlik vir die munisipaliteit om by te bly.

“Die burgerregteorganisasie het onlangs ’n brief aan die munisipaliteit gestuur oor die toestand van die middestad, aangesien daar veelvuldige lekkasies was wat groot skade aan die padinfrastruktuur gerig het. Daar is boonop ’n beeskop tussen bourommel gevind,” sê Pretorius. “Met AfriForum se besoek aan die middestad is die waterlek, wat gevaarlike slaggate op die hoek van Voortrekkerweg en Corrie de Kockstraat veroorsaak het, herstel. Verder is die padoppervlak langs Voortrekker- en Margaretha Prinsloostraat ook netjies herstel.”

Tydens AfriForum se inspeksie is daar egter bevind dat ’n nuwe waterlek naby die herstelde gedeelte van Margaretha Prinsloostraat ontstaan het. Die lek veroorsaak dat water na die kruising van Margaretha Prinsloo- en Noordstraat vloei, waar daar reeds tekens is dat ’n nuwe slaggat vorm. Daarbenewens bly die ophoping van bourommel by dieselfde kruising ’n groot gesondheidsrisiko. Die ontdekking van ’n beeskop tussen die rommel beklemtoon die erns van die besoedeling in hierdie area.

“Die skepping van ’n gesamentlike bestuursplan is noodsaaklik om langtermynoplossings vir die kwessies in Klerksdorp se middestad te vind,” sê Pretorius. “Deur saam te werk kan die munisipaliteit en plaaslike belanghebbendes volhoubare verandering teweegbring wat sal verseker dat goeie dienslewering gehandhaaf word.”

AfriForum beskou hierdie plan as ’n moontlike samewerkingsooreenkoms met die plaaslike Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme. Deur plaaslike ondernemings en grondeienaars te betrek, kan openbare deelname verbeter word. Dit wakker op sy beurt ’n gevoel van gedeelde eienaarskap aan en verseker dat die oplossings wat geïmplementeer word prakties en voordelig vir almal is. Hierdie inisiatief sal ook vertroue in die munisipaliteit se vermoë om openbare dienste doeltreffend te bestuur, versterk. Dit is noodsaaklik om vertroue in die sakegemeenskap te herstel en die plaaslike ekonomie ’n hupstoot te gee.

AfriForum is daartoe verbind om met alle belanghebbendes saam te werk om die sukses van hierdie projek te verseker. Die burgerregteorganisasie glo dat ’n samewerkende benadering sal lei tot blywende verbeteringe wat beide die munisipaliteit en die plaaslike ekonomie bevoordeel.

Kontak Neil Strydom van AfriForum by 081 506 4415 vir meer inligting oor die gesamentlike bestuursplan of om aktief daarby betrokke te raak.

Soortgelyke plasings