Water
|

AfriForum vra Kgetlengrivier-munisipaliteit om Derby se water te herstel

Die gemeenskap van Derby ervaar die afgelope vyf weke ernstige waterprobleme. Sommige dae is inwoners vir ure aaneen sonder water. Die gebrek aan skoon water het einde Augustus begin en hou ’n gesondheidsrisiko vir inwoners in.

Luidens ’n brief wat AfriForum op 4 Oktober aan die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit gestuur het, is die oorsaak van die voortdurende onderbreking in die watertoevoer weens vermeende kragprobleme na die waterpompe.

“Water is ’n fundamentele mensereg en die langdurige afwesigheid van hierdie noodsaaklike diens plaas onnodige swaarkry op die inwoners van Derby. Ons doen ’n beroep op die munisipaliteit om hierdie saak met die dringendheid en erns wat dit regverdig, op te los,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

In die brief versoek AfriForum ’n gedetailleerde verslag oor die presiese aard van die probleem met die waterpompe, die redes vir die vertraging in herstelwerk en ’n hersiene tydlyn vir die voltooiing van herstelwerk en herstel van watertoevoer. AfriForum vra ook dat die munisipaliteit ’n  aksieplan van die huidige situasie en hoe die munisipaliteit beplan om dit op te los, verskaf.

AfriForum doen ook ’n beroep op die Kgetlengrivier-munisipaliteit om in die tussentyd ’n watertenk met drinkwater daagliks aan die gemeenskap beskikbaar te stel. Volgens Viljoen is daar ’n watertenk maar dat dié water nie veilig is vir menslike verbruik nie.

Die munisipaliteit het tot en met 8 Oktober om op AfriForum se brief te reageer.

Soortgelyke plasings