|

Waarom word skipper se saak nie as ’n moordsaak hanteer nie, vra AfriForum se privaatvervolgingseenheid

AfriForum se privaatvervolgingseenheid eis antwoorde van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir waarom ’n saak, wat byna sekerlik ’n moordsaak is, as ’n vermiste persoon-saak hanteer word. Die saak hou verband met die KwaZulu-Natalse skipper John ‘Matambu’ Dercksen, wat op 16 Maart vanjaar vermis geraak het. Terwyl die verdagte, Ferdie Visser – die laaste persoon wat saam met Dercksen gesien is – in hegtenis geneem is, het die NVG die klagte laat vaar, met verwysing na ’n “internasionale prosedurele onreëlmatigheid” in sy deportasie uit Mosambiek.

Die eenheid verteenwoordig Dercksen se suster, Cherie Eilertsen, wat haar eie deeglike ondersoek na die omstandighede oor haar broer se verdwyning gedoen het, maar nie ondersteuning en samewerking van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) of die NVG ontvang het nie. Sy het die eenheid genader om antwoorde van die NVG te kry en om te verseker dat die saak behoorlik ondersoek word en Visser op ’n aanklag van moord en bedrog aangekla en vervolg word.

Visser het op 16 Maart ’n boot gehuur en vanaf Sodwana met Dercksen, wat aan stuur was van die boot, vertrek. ’n Dag later is die boot se verbrande wrak op ’n strand in Mosambiek gevind. Visser is kort daarna in Maputo in hegtenis geneem voordat hy na Suid-Afrika geneem is en het op 2 April in die Manguzi-landdroshof verskyn. Hy is aangekla van bedrog in verband met ’n saak wat Regardt Scott, die eienaar van die maatskappy waar die boot gehuur is, geopen het. Die NVG het egter die saak op 21 Mei teruggetrek en voer aan dat Visser nie ingevolge die Wet op Uitlewering voor die hof gebring is nie. Hy bly egter in aanhouding weens ’n parooloortreding.

In ’n brief aan die NVG, sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, dat nóg Eilertsen nóg Scott sedert die saak teen Visser teruggetrek is – ondanks die NVG se versekering dat die saak steeds aandag geniet – vir inligting of verklarings genader is wat die saak kan help nie. Volgens Nel is die gevolgtrekking dan dat leë beloftes gemaak is om verder ondersoek in te stel net om die privaatvervolgingseenheid se kliënte tevrede te stel. Die eenheid is verder verstom dat die NVG die ondersoek van wat moontlik ’n moord is as apart van die bewerings van bedrog hanteer. Nel meen dat die beskuldigde in een verhoor vir bedrog en moord vervolg moet word en beweer dat die skeiding van sake eienaardig is.

Nel voeg verder by dat hierdie saak nou al vir meer as ses maande ondersoek word en dat dit dan nie onredelik is om terugvoer en ’n verslag oor die vervolging te versoek nie asook om die verdagte weer in te voeg nie. Die benadering om ’n moontlike uitlewering te ondersoek het klaarblyklik die fokus verskuif van die versekering dat geregtigheid vir die slagoffers van die misdade geskied.

Soortgelyke plasings