|

AfriForum vra DA en VF+ om RNE te heroorweeg sou Bela-wet bly

Die burgerregteorganisasie AfriForum se direksie het eenparig besluit om die DA en VF+ amptelik te versoek om hulle deelname aan die regering van nasionale eenheid (RNE) in heroorweging te neem sou die klousule in die Bela-wysigingswet wat die voortbestaan van Afrikaanse skole bedreig, onveranderd geïmplementeer word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, volg dié besluit nadat AfriForum intern noodgesprekke gevoer het in reaksie op die feit dat daar ’n groep anti-Afrikaanse aktiviste in die ANC, Gautengse regering en selfs polities gedrewe senior amptenare in die Nasionale Departement van Onderwys is wat minagtend optree teenoor president Cyril Ramaphosa se besluit om ’n geleentheid vir verdere beraadslaging oor die Bela-wet se taalklousules te skep. “Hierdie anti-Afrikaanse groep is openlik daarop uit om konstruktiewe gesprekke in die wiele te ry en die Bela-wet se implementering in sy huidige formaat deur te stoomroller en enige samewerking binne die RNE onmoontlik te probeer maak,” voer Kriel aan.

Kriel het daarop gewys dat die hoop dat die RNE ’n nuwe era van samewerking ingelui het, tot niet gemaak sal word indien dit blyk dat die ANC die DA en VF+ bloot gekoöpteer het om ANC-beleidsrigtings slaafs na te volg en selfs drakoniese beleidsrigtings soos vervat in die Bela-wet met ywer te implementeer.

“Hannah Arendt het gesê ’n mens het nie die reg om onreg te gehoorsaam nie. Netso het partye soos die DA en die VF+ nie die reg om mee te doen aan die onreg wat teen Afrikaanse kinders en skole gepleeg sal word deur die Bela-wet in sy huidige formaat nie,” sê Kriel.

Kriel het aangedui dat sou die Bela-wet ten volle onder die RNE geïmplementeer word, sal almal wat in die RNE dien medepligtig wees aan die Bela-wet se aanslag op die voortbestaan van Afrikaanse gemeenskappe. “Afrikaanssprekendes het nie soos ander kultuurgroepe in die land groot tradisonele gebiede waarin hulle kulture bevorder word nie en daarom speel Afrikaanse skole ’n sentrale rol in die voortbestaan van die onderskeie Afrikaanse kultuurgemeenskappe regoor die land. Juis daarom is die stryd teen Bela nie net ’n stryd teen nog ’n wet nie, maar is dit ’n stryd om kulturele oorlewing,” voeg Kriel by.

AfriForum se kommer oor die huidige gesprekvoeringsproses oor die Bela-wet vloei volgens Kriel onder meer daaruit voort dat die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, en sy LUR vir onderwys, Matome Chiloane, reeds aangedui het daar daar nie plek vir ’n enkelmedium Afrikaanse skool is nie, terwyl Chiloane selfs leedvermakerig die dae aftel voordat hy Bela se anti-Afrikaanse klousules kan implementeer. “Hierdie minagting vir verdere gesprekvoering word ook deur ’n aantal senior amptenare in die Nasionale Departement van Onderwys gedeel. Dít was duidelik tydens ’n vergadering waar ’n amptenaar baie aanvallend teenoor AfriForum, Solidariteit en Saai se afgevaardigdes opgetree het en selfs aangedui het dat die implementering van die Bela-wysigingswet ’n voldwonge feit is,” sê Kriel.

Volgens Kriel gaan AfriForum intussen voort om openbare teenstand teen Bela te mobiliseer en het meer as 215 000 mense reeds AfriForum se petisie teen dié wet by www.stopbela.co.za geteken. AfriForum, Solidariteit en talle ander rolspelers beplan ook verskeie ander protesaksies teen die Bela-wet wat later bekendgemaak sal word.

Soortgelyke plasings