|

AfriForum dring aan op regrukplan vir Klerksdorp-middestad

AfriForum se Klerksdorp-tak het Vrydag 13 September ’n dringende skrywe aan die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit gerig en die munisipaliteit sewe dae kans gegee om met ’n regrukplan vir Klerksdorp se sakesentrum vorendag te kom. Ernstige verval van veral Voortrekker-, Margaretha Prinsloo- en Corrie de Kockstraat; die verbrokkeling van die padoppervlak; die voorkoms van tientalle slaggate; en die versuim om ’n groot waterlekkasie, wat vir die agteruitgang van paaie hier verantwoordelik is, te herstel, is net enkele van die brandpunte wat volgens AfriForum dringende aandag vereis. Dié probleme hou boonop ’n ernstige risiko in vir motoriste en voetgangers.

Benewens die verswakkende toestand van verskeie paaie in dié dorp, is die verbranding van vullis in veral Voortrekkerstraat, die dringende behoefte aan vullisverwydering en die invloed wat die algehele veral op ondernemings in hierdie deel van die dorp het, kommerwekkend. Dié sake is ook in AfriForum se skrywe aan die munisipaliteit uitgelig.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is die skade wat ondernemings weens die verval ly, omvangryk. “Elans Vars Produkte ly byvoorbeeld al minstens drie jaar lank grootskaalse skade omdat die munisipaliteit opgrawings in die straat voor dié onderneming gedoen het, maar steeds nie herstelwerk afgehandel het nie. Die algehele gebrek aan onderhoud deur die munisipaliteit het nou reeds onaanvaarbare afmetings aangeneem,” benadruk Pretorius.

“Dit is skokkend en onaanvaarbaar dat ’n munisipaliteit so in gebreke kan bly om hul plig na te kom. Inwoners het die reg tot ’n skoon en veilige omgewing en dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om Klerksdorp netjies te hou en hulle moet daarby gehou word. Dit is tyd dat die gemeenskap van Klerksdorp hande vat en opstaan teen dié verval,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings