Bronkhorstspruit-tak en -buurtwag hou dorp mooi en veilig
Die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit het skaars Augustus se stof van hulle skoene afgeskud toe hulle die eerste aksies vir September aangepak het.
Dié tak het as deel van Nasionale Boomplantmaand twee Kareebome by Laerskool Balmoral geplant. Volgens Sampie Steinberg, distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Noord, was die kinders baie opgewonde om deel te neem aan hierdie aksie en hulle eie groen voetspoor af te druk.
Verder het ses buurtwaglede ook hul brandbestrydingsopleiding in Centurion by Forum Sekuriteit voltooi. Hierdie buurtwaglede is nou toegerus met die nodige kennis en vaardighede om hul gemeenskap ook by te staan indien daar ’n brand uitbreek.
“Dit is belangrik vir ons om lede toe te rus om reg op te tree tydens ’n noodgeval om sodoende hulself en die gemeenskap op ’n veilige wyse te kan help. Hierdie opleiding het onder meer behels hoe om ’n gebou suksesvol te ontruim indien ’n brandalarm afgaan en ook hoe om noodplanne op te stel wat geïmplementeer kan word tydens ’n brand,” sê Liam Lewis, AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwagleier.
“Aksies soos hierdie bewys dat gemeenskappe hulself vir ’n skoner, veiliger en meer volhoubare toekoms moet en kan beywer deur proaktief betrokke te raak en probleme te pak. Ons moedig gemeenskapslede aan om vandag nog aan te sluit by hul naaste tak en saam te help om ’n verskil te maak,” sluit Steinberg af.
Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit by die Bronkhorstspruit-tak.