|

AfriForum stel nuwe televisiereeks oor entrepreneurskap bekend tydens Gauteng-skolebesoek

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek verskeie skole in Gauteng besoek om Die Korf, AfriForumTV se nuwe televisiereeks oor entrepreneurskap, aan jongmense bekend te stel. Hierdie reeks word aangebied deur die gewilde sanger Bernice West en haar ewe gewilde broer en Rooksein-sanger, Renier, en sal van 6 September af aanlyn beskikbaar wees op AfriForumTV. Skole wat Woensdag en Donderdag tydens dié twee dae lange toer besoek is, sluit in Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Laerskool Muldersdrif in Muldersdrif en Laerskool Roodekrans in Roodepoort.

Die Korf neem kykers op ’n reis deur Gauteng om van Suid-Afrika se jongste en mees talentvolle entrepreneurs te ontmoet. In dié agt-episode-reeks gesels jong entrepreneurs, van laer- en hoërskoolouderdom, oor hul besigheidsidees en wat hulle doen om die wêreld van entrepreneurskap suksesvol aan te pak. Die program sluit voorts ook onderhoude met die jong entrepreneurs se onderwysers in om hul perspektief oor die belangrikheid van entrepreneurskap te kry. Die entrepreneurs se kliënte kry ook kans om hul sê te sê oor waarom hulle juis hierdie ondernemings ondersteun.

Leandie Bräsler, AfriForum se Gemeenskapsforumkoördineerder en vervaardiger van die reeks, sê: “Die Korf beloof om hope pret te wees en om jongmense te bemagtig met kennis en die wil om self hul entrepreneuriese vaardighede op te skerp of plaaslike entrepreneurs te ondersteun. Hierdie jong entrepreneurs is leiers en voorlopers van entrepreneurskap wat ander jongmense wys dat dit moontlik is om ’n onderneming op die been te bring, mits jy daarin glo én hard werk.”

Neem deel aan hierdie inspirerende reis saam met ons land se toekomstige sakeleiers. Kyk dié reeks op www.afriforumtv.co.za.

Vir meer inligting oor die Die Korf besoek www.besigheidsbytjies.co.za of volg AfriForum, AfriForum Sakenetwerk, West Cafe en die trotse mediavennoot van die reeks, Pretoria FM, vir meer inligting.

Soortgelyke plasings