Duurder water wag op verbruikers, maan AfriForum-omgewingskenner
Die tyd van goedkoop water gaan vir Suid-Afrikaners binnekort iets van die verlede wees. Só meen Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake, wat by AfriForum se nasionale kongres buite Bela-Bela die afgelope naweek lig gewerp het op die benarde toekoms van water wat die land tegemoet gaan.
Kim Walsh, ’n waterkenner verbonde aan die konsultasiemaatskappy PDG, beaam hierdie stelling in haar studie oor die koste van water wat in die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se ekonomiese bulletin van Augustus 2023 verskyn het. Sy stel dit daarin duidelik dat toenemende waterskaarste en die onvoldoende investering in batebestuur na verwagting in die toekoms die belangrikste dryfvere agter die prys van water sal wees.
Die prentjie wat De Klerk oor die toekoms van water in Suid-Afrika geskets het, blyk egter om selfs nog donkerder te wees. Hy waarsku dat die gehalte van water na verwagting in die komende jare nog verder gaan verswak; dat talle dorpe in die land waarskynlik in die toekoms nie meer toegang tot skoon water sal hê nie; en dat die verval van waterekosisteme sal toeneem.
AfriForum speel volgens De Klerk ’n kritieke rol in die pogings om die voorsiening van veilige en skoon drinkwater in die land te help verseker. Nie net betrek die organisasie deurlopend kenners op die terrein van water en sanitasie om in probleemgevalle die nodige insigte te bied oor die herstel, opknapping en instandhouding van waterstelsels nie, maar neem ook telkens deel aan prosesse wat met die opstelling van wetgewing gepaard gaan. AfriForum pak ook, in gevalle waar die situasie dit vereis, hofsake aan en vervul – deur middel van die organisasie se blou-en-groendruppelouditverslag – ’n moniteringsrol om die stand van waterhulpbronne na te gaan.
Nóg ’n wyse waarop AfriForum ’n praktiese benadering in gemeenskappe volg, is die oprigting van noodwaterpunte.
Hy hou egter vol dat Suid-Afrikaners dringend self ook hul benadering tot waterverbruik sal moet aanpas en meer verantwoordelik te werk sal moet gaan met hierdie skaars hulpbron.
Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) het verlede jaar reeds gewaarsku dat daar wêreldwyd ’n ongekende waterkrisis woed en dat die vraag na vars water volgens die Verenigde Nasies (VN) teen 2030 sowat 40% hoër as die beskikbaarheid sal wees.
In Suid-Afrika, wat ernstige waterskaarste ondervind, behoort inwoners op ’n praktiese wyse werk te maak met waterbesparing, benadruk De Klerk. Hy stel onder meer voor dat items soos waterlose toilette en waterbesparingskrane enkele maniere is waarop waterbesparing in huishoudings gepak kan word.
Lang, luilekker stortsessies, vermorsing van skoon water met elke spoel van ’n toilet of ondeurdagte besproeiing van tuine is luukshede wat Suid-Afrika volgens De Klerk nie kan bekostig nie. En die antwoord? Gemeenskappe wat self oplossings skep ten opsigte van waterbesparing en watergebruik is nou kritiek belangrik en kan die verskil tussen ’n toekoms mét en een sonder skoon drinkwater beteken.
“Die toekoms van water in Suid-Afrika mag dalk donker lyk, maar daar is hoop as gemeenskappe hul vermoëns mobiliseer om waterbestuur in eie hande te neem,” verduidelik De Klerk. “Deur inisiatief te neem en saam te werk, kan gemeenskappe ’n beduidende verskil maak in die bestuur van hul eie waterhulpbronne en volhoubare toegang tot skoon water verseker. Dit beteken ’n skuif weg van die tradisionele afhanklikheid van munisipaliteite na ’n model waar gemeenskappe self verantwoordelikheid aanvaar en betrokke raak by waterbesparing en -bestuur.”
Hy voer aan dat die tyd vir ’n nuwe benadering aangebreek het en dat gemeenskappe meer direk betrokke moet raak by die bestuur van dienste en ’n aktiewe rol in die beskerming en herstel van waterbronne moet speel. “Deur saam te werk en kreatiewe oplossings te soek, kan ons nie net ons eie toekoms verseker nie, maar ook ’n nalatenskap van verantwoordelike watergebruik skep vir toekomstige geslagte. Die pad vorentoe mag uitdagend wees, maar met samewerking en ’n gedeelde visie vir volhoubaarheid, kan ons ’n beter toekoms vir almal bou,” sluit De Klerk af.