| |

AfriForum se Moot- en Oos-Moot-tak verskaf water aan gemeenskap

AfriForum se Moot- en Oos-Moot-tak het op 25 Julie 2020 water aan die gemeenskap verskaf nadat inwoners van die Moot vir drie dae sonder water was.

AfriForum se Moot-tak het vroeër vanjaar ’n noodwaterpunt opgerig spesifiek vir gevalle soos dié wanneer die munisipaliteit versuim om hul pligte na te kom. Die waterpunt is vroeg Saterdagoggend oopgemaak sodat inwoners water kon kry. Die Oos-Moot-tak het ook vinnig opgetree en ’n tenk met water op ’n bakkie gelaai en voor Laerskool Voorpos gestaan sodat inwoners ook daar water kon kry.

“Hierdie is weer eens ’n voorbeeld van wat gemeenskappe kan vermag as almal hande vat en ’n probleem saam aanpak. AfriForum sal aanhou om gemeenskappe by te staan en saam aan oplossings werk,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“Ons wil graag nóg waterpunte in die Pretoria-omgewing oprig om meer water tydens onderbrekings beskikbaar te stel. Watertekorte gaan in die toekoms moontlik meer gereeld voorkom en juis daarom moet daar meer op selfdoen gefokus word sodat gemeenskappe beter toegerus is,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Raak vandag nog by AfriForum se Moot- en Oos-Moot-tak betrokke en word deel van die oplossing: SMS “Moot” of “Oos-Moot” na 45341 (R1).