| |

AfriForum rig skrywe aan Tshwane Metro oor toestand van park in Valhalla 

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 23 Julie 2020 ’n skrywe aan die Tshwane Metro gerig rakende die toestand van die Montague Kneen-park in Valhalla, Centurion, nadat gemeenskapslede en ander rolspelers die organisasie om hulp genader het. Bourommel en bande word reeds vir etlike maande onwettig in die park gestort. Die organisasie het die metro tot 30 Julie 2020 gegun om ’n aksieplan voor te lê om die brande en storting in die park te verhoed.

Die bande wat in die park gestort word, word ook gebrand wat erge swart rook veroorsaak en hou gesondheidsrisiko’s vir inwoners van die omgewing in. Sonder die nodige beheer en toesig word enige vullis ook nou in die park gestort en dit veroorsaak ’n ondraaglike stank vir die nabygeleë inwoners. Onwettige strukture is ook in die park opgerig wat bydra tot veiligheidsrisiko’s. Die opgehoopte vullis en bande maak dit byna onmoontlik om misdadigers in die gebied aan te keer aangesien voertuie nie agter hulle kan aanry wanneer hulle in die park vlug nie.

AfriForum doen ’n dringende beroep op die metro om die probleme uit die weg te ruim, asook om hul plan voor te lê oor hoe hierdie probleem in die toekoms die hoof gebied gaan word.

“Dit is skokkend dat die metro kan toelaat dat vullis en bande in die park gestort word. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat die probleem opgelos word en dat die nodige aandag aan die park gegee word om te verhoed dat dieselfde probleme in die toekoms herhaal word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“AfriForum sal aanhou om druk op die metro toe te pas sodat die toepaslike verordeninge gehandhaaf word. Ons sal aanhou om gemeenskappe te ondersteun en saam aan oplossings werk,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

AfriForum se Centurion-tak nooi die gemeenskap uit om by die tak se toekomstige projekte en veldtogte betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45341 (R1).