AfriForum Teater ondersteun gemeenskapskoorfees met nuwe trofee

AfriForum Teater is sedert die ontstaan van die Legato Koorfees en -toekennings drie jaar gelede die tuiskomplek van hierdie fees en vanjaar is geen uitsondering nie. Hierdie koorfees bied Suid-Afrikaanse kore ’n platform waar hulle hul koorkuns in ’n teateromgewing voor waarderende gehore ten toon kan stel en tussen 16 en 18 Augustus het 15 kore vanuit verskeie provinsies presies dit gedoen. Om dié erfenis uit te bou het die AfriForum Teater ook as borg opgetree vir die splinternuwe AfriForum Teater-wisseltrofee vir die Legato Toekenning vir Musikale Uitnemendheid.

Die unieke wisseltrofee is deur die bekende beeldhouer Sanna Swart geskep. Swart het bekendheid verwerf vir haar abstrakte beeldhouwerk wat uit vlekvrye staal geskep word. Sy het vir hierdie trofee vloeiende metaallyne gebruik om ’n legato- frase uit te beeld. Die woord legato is ’n Latynse musiekterm wat in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) omskryf word as: “op ’n gladde, vloeiende manier, sonder ’n onderbreking tussen die verskillende note”. Die splinternuwe wisseltrofee is Sondagaand aan Laerskool Constantiapark se seniorkoor toegeken nadat hierdie koor sy uitnemende musiektalent ten toon gestel het. Dié koor se dirigent is Annelie van Rooyen; die begeleier Betsie Schaap; Susan van Wyk het die perkussie behartig; en Evert van Niekerk was op viool.

Susan van Wyk, Carien Bloem, Sanna Swart, Annelie van Rooyen en Betsie Schaap.

Carien Bloem, hoof van kommunikasie en openbare skakeling by AfriForum Teater, sê AfriForum Teater,  in samewerking met Legato, bied ’n unieke teaterervaring vir koorsangers van so jonk as vyf jaar oud tot afgetredenes in seniorkore. “Die teateromgewing omvorm die kore se optredes van ’n ouditiewe na ’n multi-sensoriese ervaring”, verduidelik Bloem. “Die Legato-span is ook streng daarop ingestel dat kore nie van onnodige foefies gebruik maak nie, maar eerder fokus op die goeie gebruik van beligting en die keurige aanwending van ’n seremoniemeester en oudiovisuele elemente. Al dié elemente maak die gehore en kore se ervaring meer spesiaal.”

Kore in en om Gauteng was grotendeels op die teater se verhoog die afgelope drie jaar, maar kore van so ver as Polokwane, Potchefstroom en Rustenburg het ook al aan hierdie fees deelgeneem. Sedert die aanvang van die fees het nagenoeg 150 kore oor die teaterverhoog gestap. “Dit is heerlik om te sien wanneer sangers ’n teaterverhoog vir die eerste keer betree. Die gehore kan behoorlik die opgewondenheid by veral die voorskoolse- en juniorkore aanvoel en dit maak die feeskonserte sommer ekstra vrolik,” sê Tiaan Ras, uitvoerende hoof van Legato. “Ons is AfriForum Teater innig dankbaar dat hy dit vir Legato moontlik maak om soveel sangers ’n egte teaterervaring te bied.”

AfriForum Teater is ’n lewende monument vir die bevordering van die Afrikaanse kunste en dien as ’n tuiskomplek vir gemeenskappe. “Om deel te wees van, en ’n sigbare bydra tot hierdie pragtige en unieke koorfees te maak, is ’n groot voorreg vir die teater,” sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings