LPR-kamera hou Potchefstromers veilig
AfriForum se buurtwag in Potchefstroom het al verskeie suksesse behaal sedert ’n LPR-kamera op die N12 opgerig is, waaronder die arrestasie van twee verdagtes wat by ’n voertuig ingebreek het. Danksy dié kamera is die verdagtes binne ’n week opgespoor en aangekeer.
Die AfriForum-buurtwag het die LPR-kamera, wat nommerplate deur kruisverwysings van sowel ’n plaaslike as internasionale databasis herken, onlangs in samewerking met Mooirivier Beskerming opgerig. Die 24-uur monitering word deur Mooirivier Beskerming waargeneem.
Die verdagtes is in hegtenis geneem vir diefstal uit ’n voertuig by ’n winkelsentrum in Potchefstroom. Die wegkomvoertuig se besonderhede is op die kamera se databasis gelaai en skaars ’n week later is die voertuig weer in Potchefstroom deur die stelsel opgetel. Die nodige rolspelers is in kennis gestel en ’n suksesvolle arrestasie is op die N12 na Klerksdorp gemaak.
Hierdie sukses is een van vele wat in ’n kort tydperk met behulp van die LPR-kamera plaasgevind het. Suksesse soos dié word moontlik gemaak deur lede se finansiële bydraes tot die AfriForum-buurtwag.
“Ons kan nie anders as om met mekaar saam te werk teen misdaad nie en dié sukses is ’n sprekende voorbeeld daarvan. Die AfriForum-lede in Potchefstroom kan tevrede wees dat hulle ledegeld op so ’n wyse aangewend word om ook hulle veiligheid te bevorder,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier.
Raak by Potchefstroom se AfriForum-buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.