|

Debatteerders sit mekaar ore aan by eerste Dink of Sink-kompetisie in Mpumalanga

AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerders het vanjaar tot in Mpumalanga uitgebrei waar die eerste kompetisie in die provinsie op 7 Augustus by Hoërskool Nelspruit in Mbombela aangebied is. Dié kompetisie vorm deel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie se streeksuitdunne vir hoërskoolleerders. Die wenners van dié kompetisie dring deur na die nasionale finaal wat op 5 Oktober in Pretoria plaasvind.

Die doel van hierdie debatskompetisie, wat sedert 2016 deur AfriForum aangebied word, is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Altesaam 30 leerders van twee hoërskole, naamlik Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Bergvlam, het aan die eerste debatskompetisie in Mpumalanga deelgeneem. Elk van die verskeie spanne het drie debatte gevoer oor verskeie onderwerpe rakende aktuele kwessies in hulle omgewing en die land.

“Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie leer leerders om krities na ’n argument te luister, dit vir hulself uit te redeneer en dan toepaslik daarop te reageer. Dit is van onskatbare waarde vir leerders om te leer hoe om ’n argument te ontwikkel en dit in suiwer Afrikaans om te sit,” sê Magda van der Merwe, onderwyser aan Hoërskool Nelspruit.

Ná ’n lang dag van debat het Hoërskool Nelspruit se spanne kop en skouers bo die res uitgestaan. Dié hoërskool (span 1) se Alissa van Niekerk, Marné Pretorius en Ude van Veenhuysen is as die wenners van die junior kategorie aangekondig en Ian MacDonald, Emile van Zyl en Shayna Lea (span 2) is as die naaswenners gekroon. In die senior kategorie het Hoërskool Nelspruit (span 1) se Rosemarie Oberholzer, Brenton Eastes en Nina Prinsloo geseëvier en is Kristen Lean, Cobus Buitendach en De la Rey Rafley (span 2) as naaswenners gekroon. Hoërskool Nelspruit se junior span (span 1) en senior span (span 1) dring deur na die nasionale finaal wat in Oktober in Pretoria plaasvind.

“Alhoewel daar nog baie oefening en voorbereiding vir die debatteerders voorlê, sien ons baie uit vir ’n naelbyt eindstryd wat gaan bepaal wie die beste onvoorbereide debatteerders in Suid-Afrika is,” sê Nicolene Müller, projekkoördineerder van Onderwys by AfriForum.

Soortgelyke plasings