|

Malmesbury-tak skop fase 2 van gemeenskapsprojek af

Die AfriForum-tak in Malmesbury het op Saterdag 3 Augustus fase 2 van hul gemeenskapsprojek aangepak. Dié projek fokus op die opknapping en instandhouding by die T-aansluiting van Piet Retiefstraat en Voortrekkerweg se omliggende monumente, tuine en infrastruktuur.

Die monument, wat die Groot Trek herdenk, is skoongewas en geverf en daar is voortgebou op die vestiging van ’n waterwyse rotstuin. Die straathoek by die Malmesbury-landdroshof is skoongemaak om motoriste se uitsig te verbeter. Rotstuine is gebou, beddings is skoongemaak en nuwe plante en bome is aangeplant terwyl die reeds bestaande plantegroei uitgedun is. Kennisgewingborde se pale is met ’n onderlaag geverf. Die plaaslike onderneming Tree Fellers is ook betrek om hand by te sit met hierdie groot taak.

Die rusbankie oorkant Geard-apteek is met behulp van Nico Rame herstel en daarna geverf en die houtwerk is behandel. Hierdie tradisionele rusbankie is nou ’n fokuspunt.

“Hoewel die AfriForum-tak in Malmesbury op veiligheid fokus, kan die instandhouding van bestaande infrastruktuur nie nagelaat word nie,” sê Riaan Muller, voorsitter van dié AfriForum-tak.

“Dit is nodig om trots onder gemeenskapslede in die omgewing te kweek deur te bou aan dit wat die moeite werd is om te bewaar. Mense wat ons Swartlandse dorp besoek of net deurry moet die gemeenskap se trots kan raaksien,” sê Marius van Zyl, wat die projek gedryf het.

Die Malmesbury-tak bedank almal wat gehelp en ’n bydrae gelewer het. Die tak bedank ook die plaaslike munisipaliteit met wie hulle ’n goeie verstandhouding het.

Vir meer inligting oor toekomstige projekte of om betrokke te raak, kontak Muller by voorsitter.malmesbury@afriforumtak.co.za of 072 920 2984.

Soortgelyke plasings