|

Pleknaamveranderings is duur oëverblindery, sê AfriForum

AfriForum beskou die voortgesette verandering van plekname as ’n duur oefening waarmee swak presterende owerhede dikwels die illusie probeer skep dat hulle met effektiewe bestuur besig is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit kommerwekkend dat die Oos-Kaapse LUR vir Sport, Kuns en Kultuur, Sibulele Ngongo, onlangs in haar begrotingstoespraak beklemtoon het dat dié provinsie al meer plekname verander het as enige ander een in die land, asof dit ’n kompetisie is en geen ontwrigting veroorsaak nie.

“Die proses van pleknaamveranderings is sinvol wanneer kwetsende name en verkeerde spelwyses reggestel word. Tans is daar egter ’n lukraak proses aan die gang waar voorstelle vir naamsveranderings om sogenaamde ‘transformasie van die kulturele erfenis’ en ‘herstellende geregtigheid’ plaasvind, om die LUR aan te haal,” voeg Bailey by.

Bailey meen mense wat die veranderings ondersteun, word meestal nie na behore ingelig oor die administratiewe koste en gevolge daarvan nie. “Die indruk word verder geskep dat inwoners wat geraak word oor die algemeen behoefte aan die veranderings het, terwyl verskeie prosesse, insluitend openbare raadplegingprosesse en selfs ’n landswye konsultasieproses deur ’n ministeriële taakspan al ervaar het dat mense veral werksgeleenthede en goeie dienslewering verlang. Simboliese kulturele aksies soos naamsveranderings en die verskuiwing van monumente met openbare fondse is allermins onder hulle dringendste behoeftes. Dié soort dade slaag ongelukkig wel daarin om gemeenskappe te polariseer, wat teen die huidige politieke klimaat indruis en ’n kultuur van wedersydse erkenning en respek ondermyn.”

AfriForum beveel aan dat gemeenskappe wat deur voorgestelde naamsveranderings geraak mag word, die media dophou vir openbare raadplegingsgeleenthede en daaraan deelneem. Hulle kan ook seker maak of die prosesse wat deur die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad voorgeskryf word, behoorlik nagekom word. ’n Gids wat die prosesse uiteensit, is op die webtuiste van die departement van Sport, Kuns en Kultuur beskikbaar.

Soortgelyke plasings