|

Wes-Kaap se vullisterreine van die beste in SA

Uit die 189 vullisterreine wat AfriForum oor die hele land heen geoudit het, is die grootste aantal vullisterreine wat geslaag het in die Wes-Kaap geleë. Altesaam 12 vullisterreine het aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen. Die vullisterreine in Gansbaai, Malmesbury, Vredenburg en Wellington, asook die Langebaan-oorlaaistasie het boonop aan 100% van die minimum wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.

’n Totaal 38 vullisterreine is in dié provinsie besoek. Hiervan is 34 formeel geoudit, terwyl vier terreine gesluit is.

Nie al die Wes-Kaapse vullisterreine het egter goed gevaar nie. Die vullisterrein in Lutzville het aan geen van die ouditvereistes voldoen nie, terwyl Bitterfontein, Nuwerus en Klawer aan slegs 6% van die vereistes voldoen het. Die oorlaaistasies in Knysna het net so power gevaar. Die Knysna Old Place-oorlaaistasie wat gebruik word vir tuinvullis het aan 12% van die vereistes voldoen, terwyl die Knysna Sedgefield-oorlaaistasie, waarby onder meer bourommel gestort word, aan 22% van die ouditvereistes voldoen het.

Só vergelyk die vullisterreine in die Wes-Kaap

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is die meeste vullisterreine in die Wes-Kaap in ’n swakker as verwagte toestand. “Vullis uit enige stedelike gebied skep nie slegs ’n estetiese probleem nie, maar hou ook ernstige gesondheidsrisiko’s in indien dit nie doeltreffend bestuur word nie. Dit sal betreurenswaardig wees as die standaarde by vullisterreine in die Wes-Kaap, nes ander provinsies s’n, aanhou versleg.”

AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen Wes-Kaap se nie-nakomende munisipaliteite te versoek. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.

Soortgelyke plasings