Vullisterreinoudit: Mpumalanga se vullisterreine in haglike toestand
Die situasie op vullisterreine in Mpumalanga lyk net so haglik soos elders in die land waar die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine nie vanjaar AfriForum se onafhanklik vullisterreinoudit kon slaag nie. Die burgerregteorganisasie het landwyd 189 vullisterreine geoudit om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. Die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.
Om die oudit te kon slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het. In Mpumalanga is ’n totaal van 23 vullisterreine besoek. Hiervan is 22 formeel geoudit, terwyl een terrein gesluit is. Slegs een van die 22 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, naamlik die Witrivier-oorlaaistasie, het aan die minimum wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Dié vullisterrein het aan 94% van die ouditvereistes voldoen nadat dit die vorige jaar aan slegs 24% voldoen het. Die vullisterrein in Morgenzon (0%) het weer nie die oudit geslaag nie, terwyl die standaarde by die vullisterreine in Carolina (54%-nakoming) en Belfast (34%-nakoming) uiters versleg het in vergelyking met verlede jaar (82% en 59% onderskeidelik).
Só vergelyk die vullisterreine in Mpumalanga:
Volgens Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, kan die situasie in die provinsie toegeskryf word aan die munisipaliteite se ernstige tekortkominge met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is. Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie.
“Dit is duidelik dat die meeste vullisterreine in Mpumalanga in ’n haglike toestand is. ’n Algemene probleem wat AfriForum se takke tydens hierdie oudit opgemerk het, is dat daar bykans geen beheer is oor die tipe afval wat by die terreine gestort word nie, die weegbrûe gereeld buitewerking is en dat die vullis nie by die ingange van die terreine ondersoek word nie. Dit is ’n groot bron van kommer, aangesien dié gebrekkige bestuur ’n wesenlike impak op die gesondheid van die gemeenskap en die omgewing kan hê,” sê van Heerden.
AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen Mpumalanga se nie-nakomende munisipaliteite te versoek. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.