|

#VulDieGat: Van slaggat na bakgat – só spring gemeenskap in om pad te herstel

Vergeet maar van daardie slaggat in Nelson Mandelarylaan in Mookgopong, want danksy AfriForum se Naboomspruit-tak is die reusegat wat die plaaslike munisipaliteit ná die herstel van ’n gebarste pyp agtergelaat het, nou in ’n tiptop, bakgat strook pad omskep. Dié herstelwerk is as deel van AfriForum se nasionale #VulDieGat-projek aangepak waartydens daar gedurende Julie gepoog is om slaggate landwyd ten bedrae van minstens R1 miljoen te herstel.

Vir die herstelwerk aan die besige Nelson Mandelarylaan is meer as twee ton warm teer ingespan.

Die herstel van die beskadigde stuk op dié pad, is volgens Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder in Limpopo, ’n teken van ’n gemeenskap wat positiewe verandering bewerkstellig ten spyte van uitdagings wat die dorp weens munisipale dienslewering ondervind.

“AfriForum se Naboomspruit-tak het saam met toegewyde gemeenskapslede dit op hulself geneem om verskeie slaggate in Mookgopong te herstel. Hierdie proaktiewe inwoners het nie bloot toegekyk hoe die probleem en verval voortduur nie, hulle het ingespring en met die hulp van verskeie plaaslike ondernemings die herstelwerk aangepak,” verduidelik Kotze.

Rooiberg Asphalt en Remco van der Biezen het die projek ondersteun deur onderskeidelik die teer vir die projek te skenk en ’n stamper daarvoor beskikbaar te stel. “Die taklede se vindingrykheid en vasberadenheid om die nodige materiaal te verkry, demonstreer hul toewyding om die paaie in hul gemeenskap te verbeter. Plaaslike ondernemings se betrokkenheid toon boonop hoe belangrik sterk vennootskappe in die takeling van gedeelde doelwitte is. Dit stuur ’n kragtige boodskap en bevestig dat ’n gemeenskap wat saam werk struikelblokke kan oorkom en positiewe verandering sal skep,” benadruk Kotze.

Jý kan ook ’n verskil maak!

AfriForum se Naboomspruit-tak beoog om in die komende maande verskeie soortgelyke projekte aan te pak en nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak en ook ’n verskil in dié gemeenskap te maak. Besoek gerus die tak se Facebook-blad (AfriForum Naboomspruit) vir meer inligting oor toekomstige projekte of kontak André van der Schyff per e-pos by tesourier.naboomspruit@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings