|

Erfenisjuwele 6 – Vegkop Slagveld Historiese Terrein

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Een van die belangrikste slagvelde in die land, is dié van Vegkop. Jasper van der Bijl, voorsitter van die Vegkopslagveld Maatskappy se direksie vertel meer. Hy is reeds sestien jaar lank betrokke by Vegkop as direkteur, asook vir agt jaar as voorsitter van die Vegkop Geloftefeeskommissie.

Dankie vir die deelname aan Erfenisjuwele, Jasper! Wat is die geskiedenis van die slagveld, monumente en museum?

Dit is ’n ryk geskiedenis en terrein wat soveel bied, maar hiermee net enkele hoogtepunte:

Dit gedenk die Slag van Vegkop wat op 16 Oktober 1836 plaasgevind het – twee jaar voor die Slag van Bloedrivier. Sommige geskiedskrywers beskou die Vegkopveldslag selfs as ’n groter wonder as dié van Bloedrivier. By Vegkop het slegs 34 weerbare manne onder leiding van Andries Potgieter en Sarel Cilliers die aanslag van sowat 6 000 Matabele-impi’s afgeslaan. Slegs twee Trekkers het gesterf, terwyl by die 500 Matabeles gedood is.

Daar is verskeie monumente en grafte op die terrein. Die mees bekende monument met sy imposante beeld van ’n man met die Bybel teen sy bors wat op ’n klipkoppie staan, is deur Coert Steynberg ontwerp. Die simboliek van die beeld is aangrypend. ’n Mens moet dit self sien! Steynberg het dit sy “Geloofsmonument” genoem, wat Efesiërs 6 vers 16 vergestalt: “Behalwe dit alles neem die skild van geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus”. Die friese in die ringmuur beeld die gebeure van die veldslag in detail uit.

Die twee gesneuwelde Trekkers, Nicolaas Potgieter en Piet Botha, se grafte en gedenksteen is tussen die Geloftesaal en die CDJV-saal (die museum).

Op die terrein is ook ’n aantal bome wat deur die jare geplant is ter herinnering aan spesiale geleenthede. Een hiervan is ’n taaikaree, wat so simbolies is van ons “taai” Afrikaner-voorsate.

Die CJDV-saal is in 1905 (slegs enkele jare na afloop van die Anglo-Boereoorlog) deur die Christelike Jongeliede Debatsvereniging (CJDV) opgerig. Dit dien tans as ’n pragtige museum wat ons volksgeskiedenis van destyds uitbeeld. Mev. Quarta Pretorius, een van ons geliefde oud-inwoners, was die “argitek” van hierdie besonderse erfenis.

By Vegkop het slegs 34 weerbare manne die aanslag van sowat 6 000 Matabele-impi’s afgeslaan.

Waar is die terrein geleë?

Dit is 22 kilometer suid van Heilbron in die Noordoos Vrystaat met ’n goeie teerpad tot by die terrein se indraai. Aanwysings is op Google Maps met die soekterme “Vegkop Monument and Museum” te vinde.

Aan wie behoort die terrein?

Die eiendom word besit deur die Vegkop Slagveldterrein Maatskappy (Artikel 21) wat deur ’n gemeenskapsverkose direksie bestuur word. Ons is totaal onafhanklik van enige staatsbefondsing of -subsidies en die staat het dus geen seggenskap oor ons aktiwiteite nie. Ons Afrikaners moet sélf sorg en versorg.

Hoe het die terrein ontwikkel?

Dit word reeds vanaf 1904 deurlopend vir kulturele aktiwiteite gebruik. In 1972 het adv. John Vorster, die destydse eerste minister, aangekondig dat die slagvelde van Suid-Afrika gerestoureer moet word, ten einde ons erfenisse vir die Afrikanervolk te bewaar. Naas Bloedrivier was Vegkop tweede op die prioriteitslys. Die eiendomme het aan die NG Kerk Heilbron-Suid behoort en die Vegkop Geloftefeeskommissie was die toesighoudende liggaam oor hierdie projek. Enkele jare voor die politieke oorgang van 1994, het hierdie kommissie die versiendheid gehad om te besef dat ons onafhanklik van die staat moet word. Gevolglik is die Artikel 21 Vegkop Slagveldterrein Maatskappy gestig. Dit word tot op hede deur gemeenskapsverkose direksielede bestuur.

Daar is toe ook onderskeid getref tussen Geloftefeesaktiwiteite en die bewaring van die Vegkop Slagveldterrein deur die skep van ’n outonome Geloftefeeskommissie en die direksie van die Vegkop Slagveldterrein. Die slagspreuk van “ons sal self” het dus reeds in die 1980s hier by ons begin. Ons het ook ’n voltydse faktotum in diens wat die terreininstandhouding doen, asook as toergids vir besoekers optree.

Familie byeenkomste kan by die terrein aangebied word.

Wat kan mense alles op die terrein sien en doen?

Hulle kan ons trotse geskiedenis ervaar. Uiteraard is daar eerstens die herbeleef van ons pragtige, uitsonderlike monument en geskiedenis. Dit bly elke keer baie spesiaal! Verder is daar die uitstekende uitstallings in ons unieke museum.

Elke jaar op 16 Desember word ons volk se Gelofte hier gedenk. Jaarliks woon ongeveer 500 mense vanuit ons plaaslike gemeenskap en die omliggende dorpe dit by.

Die Leghoya korbeelkliphuise is beslis ’n besoek werd. Die Leghoya was ’n pro-Tswanagroep wat reeds in die sewentiende eeu hier gebly het. Hul korbeelkliphuise is bo-op die kop van Vegkop te sien. Dit kan met ’n staproete bereik word.

Die terrein is ideaal vir kampeerders of vir ’n daguitstappie. In hierdie rustige, plattelandse omgewing wat slegs 160 kilometer uit die naaste stad is, het ons 70 kampeerstaanplekke (50% met kragpunte), asook braaiplek met ’n ringmuur en lapa. Voortrekkers en skole bied gereeld kampe hier aan.

Die fasiliteite maak verder voorsiening vir familiebyeenkomste, huweliksbevestigings en -onthale, of ander feeste, met ’n saal wat 500 mense kan akkommodeer,  kombuisgeriewe en eetgerei. ’n Klankstelsel is ook beskikbaar.

Die konferensielokaal is geskik vir sodanige byeenkomste en bestuurspanne se  werksessies. Daar is ook ’n woonstel vir twee mense.

Wat verras mense gewoonlik as hulle die eerste keer by Vegkop kom?

Eerstens die netheid van die terrein en skoon fasiliteite in ’n pragtige, landelike Vrystaat-omgewing. Dan natuurlik die uniekheid van die erfenisterrein met sy besonderse standbeeld wat monumentaliteit en ’n gewyde atmosfeer skep.

Is daar spesiale toere of byeenkomste wat deur die loop van die jaar by Vegkop plaasvind?

Soos reeds genoem, vind ons Geloftefees jaarliks op 16 Desember plaas.

Georganiseerde sterrekykgroepe en individue kom ook graag hierheen. Volgens ’n groep wat ons gereeld besoek, is die Vegkopterrein naas Sutherland dié plek met die skoonste “naglig” en die beste vir sterrefotografie.

Georganiseerde geskiedenistoere doen ook hier aan en beskou ons terrein as een van hulle hoogtepunte.

Wat is van die uitdagings wat julle teenkom en wat is op julle wenslysie?

Om finansieel steeds selfversorgend te bly, is ’n deurlopende uitdaging. Ons het behoefte aan meer entoesiastiese betrokkenheid van ons gemeenskap en mede-Afrikaners.

Op ons wenslysie is dat Heilbron en Vegkop, wat só sentraal geleë is en oor soveel uitnemende fasiliteite beskik, ’n prioriteitsbestemming vir die publiek, en veral vir Afrikaners, sal word.

Ons wil graag sien dat meer georganiseerde geskiedenistoergroepe ons terrein as ’n moet besoekpunt sal prioritiseer en dat Vegkop een van die historiese byeenkomsentrums van ons Afrikaners sal word.

Die Gelofte word elke jaar op 16 Desember by die Vegkop Terrein herdenk.

Hoe kan belangstellendes betrokke raak?

Belangstellendes is baie welkom om met die direksie te skakel en hulp aan te bied met die oog op toekomstige beplanning en inisiatiewe. Ons kontakbesonderhede volg onder.

Ten slotte, as ander gemeenskappe ook by ’n terrein, monument of museum in hulle omgewing betrokke wil raak, wat is julle advies, asseblief?

Vind uit wat is geskiedkundig waardevol van en in jou omgewing. As daar reeds ’n kultuurnetwerk met ’n bestuur bestaan, bied jou hulp aan. Indien daar nog geen netwerk bestaan nie, neem die inisiatief en begin organiseer. Ons het ’n ryk Afrikaner-erfenis waarop ons trots moet bly en ook weer die trots daarvoor by ons kinders moet kweek.

Kontakbesonderhede: Besoek die webwerf, www.vegkopslagveld.co.za, of raadpleeg die boekie, Vegkop 1836-2011, wat by die museum te koop is, vir meer inligting. Navrae kan gerig word aan vegkopslagveld@gmail.com.

Soortgelyke plasings