|

Departement van Water en Sanitasie se rasbeheptheid diskrimineer teen wit én swart boere

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n hersieningsaansoek teen die Departement van Water en Sanitasie (DWS) te bring ná die departement geweier het om waterregte vir besproeiing van ’n swart boer na ’n wit boer oor te dra.

’n Suksesvolle, opkomende swart boer het ’n samewerkingsooreenkoms met sy mentor, ’n wit, kommersiële boer gesluit. Die opkomende boer was van voorneme om sy boerdery uit te brei, maar omdat hy nie voldoende sekuriteit kon voorsien nie, kon hy nie ’n kommersiële banklening bekom om nog grond te koop nie.

Gevolglik het die mentor ooreengekom om grond wat geskik is vir besproeiingsboerdery, maar waarvoor hy geen waterregte het nie, aan die opkomende boer te verhuur. In ruil vir die mentorskap, finansiële bystand om die plaas met besproeiingsinfrastruktuur toe te rus en toetrede tot markte te verseker, sou die opkomende boer sy toekomstige opbrengste gelykop met sy mentor deel. Die opkomende boer beskik oor waterregte vir besproeiing op ’n nabygeleë eiendom en hy sou hierdie waterregte tydelik aan sy mentor oordra – dít sou deurslaggewend wees tot die sukses van hierdie transaksie.

Dit is juis hierdie aansoek vir die tydelike oordrag van waterregte wat deur die Vrystaatse provinsiale kantoor van die DWS afgekeur is. Die DWS voer in sy redes aan dat die voorwaardes van die opkomende swart boer se watergebruikslisensie die oordrag van waterregte van ’n voorheen benadeelde individu na ’n nie-voorheen benadeelde individu verbied. Dít is volgens die DWS teenstrydig met die transformasiedoelwitte wat in die Nasionale Waterwet 36 van 1998 uiteengesit is.

Die DWS se versuim om bestaande waterregte tussen boere en/of plase oor te dra, is egter teenstrydig met ’n 2023-uitspraak van die Konstitusionele Hof wat duidelik stel dat die verhandeling en oordrag van bestaande waterregte toelaatbaar is.

Hierdie rasgebaseerde diskriminasie is ook teenstrydig met verskeie doelstellings van die Nasionale Waterwet, soos die bevordering van regverdige toegang tot water, die regstelling van historiese rassediskriminasie en die bevordering van sosio-ekonomiese ontwikkeling.

“Die hartseer ironie van die DWS se eng toepassing van rasgebaseerde transformasiedoelwitte is dat transformasie in werklikheid daardeur gekniehalter word. Dit is juis die opkomende swart boer wat die swaarste deur hierdie besluit benadeel word,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.   

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die landboubelangenetwerk Saai, sê dat rasbehepte staatsamptenare, naas korrupsie, die enkele grootste rede vir mislukte grondhervorming en boerontwikkelingsprogramme is, en vierkantig in die pad staan van Suid-Afrika se strewe om ’n klas van winsgewende swart boere te vestig.

Hierdie is die nuutste geval in AfriForum se voortslepende stryd teen die DWS se vroeëre omstrede pogings om onwettige transformasievereistes op die watersektor af te dwing. In 2023 het AfriForum onder meer:

  • ’n Dringende versoek aan die minister van DWS gerig om ’n onmiddellike regstelling te maak aan die DWS se aanlyn platform vir watergebruikslisensieaansoeke, waarop aansoeke slegs verwerk sou word indien die aansoeker aan die vereistes van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) voldoen.
  • Ernstige kommer uitgespreek oor die konsepwysigingswetsontwerp op die Nasionale Waterwet waardeur onder meer beoog word om watergebruikslisensies aan uitdruklike transformasievereistes te onderwerp.
  • Sterk kapsie gemaak teen voorgestelde regulasies om watergebruiklisensies onderworpe te maak aan raskwotas (die DWS het die voorgestelde regulasies ter elfder ure teruggetrek).
  • Sterk kapsie gemaak teen voorgestelde regulasies rakende watergebruik vir ontspanningsdoeleindes wat tot gevolg sou hê dat ontspanningswatergebruikers se gevestigde regte onteien sou word (die DWS het die voorgestelde regulasies ter elfder ure teruggetrek).

Soortgelyke plasings