|

Hordes slaggate in Bethal met 25 ton doleriet gevul

AfriForum se Bethal-tak het op 25 en 26 Junie tientalle slaggate in dié dorpie met ongeveer 25 ton doleriet opgevul.

Hierdie projek het verskeie strate geteiken en het ten doel gehad om verligting aan motoriste te bring wat van hierdie roetes gebruikmaak. Die toestand van die strate versleg daagliks, terwyl die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit geen instandhouding op die paaie doen nie.

Strate wat aandag gekry het, was gedeeltes van Wichtstraat, Van Riebeeckstraat en Van Der Stellaan. Die doleriet is deur NJP vervoer en deur TCG konstruksie verskaf. Oosvaal Landbou het ’n vragmotor beskikbaar gestel om die doleriet van die oplaai punt tot by die slaggate te vervoer.

Die Bethal-tak beplan ook om eersdaags weer slaggate met teer in verskeie strate te herstel om verdere verligting aan motoriste te bring.

“Ons is hard aan die werk om die dorp op te kikker – projekte vanaf skoonmaak tot slaggatherstelwerk lê nog voor. Ons sal nie die dorp versaak nie,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Soortgelyke plasings