|

Vroedvrou nou strafregtelik vervolg danksy AfriForum se privaatvervolgingseenheid

’n Vroedvrou wat voorheen skuldig bevind is aan nalatige en onprofessionele gedrag, sal nou strafregtelik vervolg word danksy volgehoue druk van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Die vroedvrou Yolande Maritz is gedagvaar om op 24 Julie op klagtes van aanranding in die hof te verskyn.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Carien en Jaco Möller en Alysia en Brendon von Kloëg in hierdie saak. Hulle het onderskeidelik in 2020 en 2022 strafregtelike klagtes teen Maritz ingedien ná komplikasies tydens die geboorte van hul babas toe Maritz as vroedvrou opgetree het. Von Kloëg se babaseuntjie is nege dae ná sy geboorte oorlede en Möller se dogtertjie is serebraal gestremd gelaat.

Maritz is reeds in 2021 permanent deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) as vroedvrou gederegistreer ná sy skuldig bevind is aan nalatige en onprofessionele optrede. Haar appèl teen die bevinding is van die hand gewys. Volgens die SARV se bevindings het Maritz onder meer nie mediese hulp vir haar pasiënte ontbied toe dit nodig was nie en medikasie toegedien waarvoor sy nie gemagtig was nie.

Maritz het na bewering die aanbevole dosis Cytotec oorskry deur aan Möller twee tablette op een slag te gee waarna sy erge kontraksies begin ervaar het en haar baba in skok gegaan het tydens geboorte.

Carien en Sophia Möller

Die Von Kloëg’s het op hul beurt hul bekommernis teenoor Maritz uitgespreek oor abnormaliteite met hul baba wat tydens die 24 weke sonar gesien is – wat blootweg geïgnoreer is. Alysia sê voorts Maritz het haar skynbaar kalmeerpille ingegee waarna sy ’n paar minute later kontraksies begin kry het. Haar seuntjie is omtrent ’n uur later gebore.

Alysia von Kloëg en Yolande Maritz

In Januarie 2023 het die privaatvervolgingseenheid namens die Möller’s en Von Kloëg’s ’n skrywe aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig oor die stand van die sake wat teen Maritz geopen is. Dié sake is na ’n gespesialiseerde ondersoekeenheid oorgeplaas.

“Vir ’n jaar en ’n half lank het die privaatvervolgingseenheid hulself daaraan toegewy om vir Carien en Alysia te ondersteun in hul soeke na geregtigheid en om te verseker dat Maritz aanspreeklik gehou word vir haar optrede,” sê Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid.

“Ons is verlig dat die saak nou op die rol geplaas is, maar dit moes nie so lank gevat het nie. In Februarie vanjaar, toe die saak steeds nie op die rol geplaas is nie, het die privaatvervolgingseenheid die NVG ingelig dat hulle versuim om Maritz te vervolg en inderwaarheid aan haar die geleentheid gegee het om voort te gaan met haar aktiwiteite  wat nóg skade aan swanger vroue kon aanrig,” sluit Bateman af.

Soortgelyke plasings