|

Elke brandkraan in Kleinfontein deur Bronberg-tak getel, gemerk en geverf

Wanneer ’n brand buite beheer woed en die brandweer nie dadelik toegang tot ’n waterpunt kry nie, kan dit groot skade in ’n gebied veroorsaak. Om só ’n tragedie te voorkom het AfriForum se Bronberg-tak ’n volledige oudit van al die brandkrane in Kleinfontein gedoen. Die tak het in die afgelope twee weke al 24 van die brandkrane in dié gebied nagegaan en seker gemaak dat elkeen in ’n werkende toestand is. Daar is ook seker gemaak dat dié brandkrane behoorlik met bordjies gemerk is en sommige van die brandkrane is selfs oorgeverf sodat die brandweer dit nie kan miskyk nie.

Die tak het nie net daar gestop nie, maar eerder ook met voorbereiding begin vir die noodwaterpunt wat in Rhenosterfonteinweg (Geelpad) in Donkerhoek opgerig gaan word. Die tak is in die proses om slote te grawe en pype aan te lê wat dan aan watertenks gekoppel gaan word. Sodra dít gedoen is sal hierdie noodwaterpunt aan die gemeenskap beskikbaar gestel word in tye wat daar ernstige waternood is. Boere in die omliggende omgewing gaan ook toegang tot hierdie waterbron hê om brande te blus. Die noodwaterpunt sal eersdaags oopgestel word.

“Dit is die gemeenskap wat daaronder lei as daar nie geredelik water op dorpe beskikbaar is nie, maar danksy die proaktiewe optrede van AfriForum se Bronberg-tak is elke brandkraan nagegaan en gaan daar boonop binnekort ’n noodwaterpunt tot die inwoners se beskikking wees,” se Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Raak vandag nog by AfriForum se Bronberg-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings