AfriForum se Paarl-tak versterk veiligheid onder individue
AfriForum se Paarl-tak het op 15 Junie in samewerking met Rukata Combat Systems nog ’n suksesvolle selfverdigingswerksessie gehou waartydens 23 deelnemers kontakvegskuns geleer is. Die deelnemers is onder meer geleer hoe om aanvalle af te weer wat met wapens soos messe of pangas uitgevoer word. Die tegnieke is prakties implementeerbaar vir mans en vroue.
Hierdie was die tweede werksessie van sy soort en dit is duidelik aan die hoeveelheid mense wat bygewoon het dat hierdie tipe opleiding baie belangrik en gewild onder gemeenskapslede is. Tot dusver is altesaam sowat 40 mense tydens vanjaar se selfverdedigingswerksessie opgelei.
Enigiemand is welkom om hierdie gratis werksessie by te woon. Daar word beplan om deur die jaar soortgelyke werksessies aan te bied om deurlopend mense se kennis en vaardighede op te skerp.
Met dié dat individue toenemend die teiken van ernstige geweldsmisdade word, is dit belangrik dat almal hulself met die nodige kennis toerus oor hoe om in dié soort situasies op te tree. Dit is een van die redes waarom AfriForum verskeie soorte opleiding fasiliteer wat gemik is op gemeenskapsveiligheid.
Hierdie werksessies bied ook die geleentheid vir mense om bande met ander te bou en hul netwerke uit te brei. In noodsituasies is dit belangrik om ’n goeie netwerk te hê met inwoners in jou gebied.
AfriForum bied ’n wye verskeidenheid kursusse vir sy lede aan. Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Paarl-tak en die Paarl Noord-buurtwag aan te sluit: Besoek www.wordlid.co.za.