|

‘Red ons koerante!’ Waarom gedrukte koerante noodsaaklik is

Wêreldwyd verkeer gedrukte media in ’n oorlewingstryd. Dit geld veral vir koerante omdat lesers gewoond geraak het daaraan dat hulle nuus vinniger aanlyn kan vind, asook omdat daar baie kanale is wat hoëgehalte nuus gratis aanlyn beskikbaar maak. Maroela Media is een voorbeeld in dié verband. Die einde van gedrukte media beteken dus nie noodwendig die einde van uitnemende joernalistiek nie, net soos die feit dat iets gedruk word, dit nog nie waar maak nie.

Mediahuise is ook nie liefdadigheidsorganisasies nie en moet dus winsgrense in gedagte hou.

Teen hierdie agtergrond is mediaberigte verlede week dat bekende koerante soos Beeld en Rapport moontlik in gedrukte formaat gaan ophou bestaan, met skok en verontwaardiging begroet. Dit laat ’n mens opnuut besin oor waarom ons gedrukte koerante van soveel waarde ag. Hier is enkele redes vir die voortsetting daarvan in Afrikaans en in ons land.

Almal is nie eenders nie

Mense wat finansiële modelle bou, veralgemeen en op grond daarvan word besluit hoe die meerderheid en die maatskappydirekteure tevrede gestel kan word. Daar is egter baie mense in Suid-Afrika wat in gebiede bly wat nie internetverbinding het nie, mense wat nie wil of kan navigeer op elektroniese media nie, of nie nuwe toestelle of data kan bekostig nie. Hulle moet steeds toegang tot nuus en meningstukke kan kry. Net omdat mense nie die hoofstroom wil of kan volg nie, beteken nie dat ons hulle en hulle behoeftes kan minag en ignoreer nie.

Langtermyn beskikbaarheid

As historikus is koerante vir my ’n kosbare bron van inligting en as’t ware ’n tydkapsule. Natuurlik is die inligting daarin van belang, maar dit kan ook elektronies beskikbaar gestel word. Wat ’n gedrukte koerant anders maak, is dat die bewaring daarvan slegs ’n lokaal wat brandbestand is en waar temperatuur, lig en vog beheer kan word, vereis. Elektroniese media word iewers in die kuberruim gestoor, maar hoe veilig is dit daar vir langtermynbewaring met stoormetodes wat deesdae aanhoudend verander? Dan is daar nog die inmenging van regerings wat nuusinhoud probeer beheer, sensuur wat weens onverdraagsame bewegings soos die “woke”-groepe beoefen word, kuberkrakers wat vir pret inligting uitwis en selfs misdadigers wat inligting kan wysig om hulle doel te dien. Dit is maklik om aanlyn berigte te vervals wat byvoorbeeld “bewys” dat plaaseienaars gronddiewe is, of dat maatskappy X in 2023 ’n opbrengs van 30% vir sy beleggers gerealiseer het. Om inhoud in ’n gedrukte koerant uit die stal van ’n geloofwaardige mediahuis te vervals, is baie meer ingewikkeld.

Koerante is ook historiese voorwerpe

Wanneer geskiedenisnavorsers ’n gedrukte koerant nadertrek, is die inligting wat daarin te vinde is veel meer omvattend as die nuusberigte. Hulle kyk na die papier en lettertipes wat in verskillende eras gebruik is, die advertensies tussen die nuus, die ontwikkeling van taalgebruik, die verskil tussen die aanbieding van dieselfde nuus deur verskillende koerante. Aanlyn media se taalgebruik en lettertipes kan maklik opgedateer en aangepas word en die kans dat advertensies van produkte in 2024 nog in 2050 elektronies bewaar gaan word, is skraps. Sonder koerante gaan hierdie inligting verlore raak.

Verpligte bewaring

Suid-Afrikaanse mediahuise word deur wetgewing verplig om kopieë van alle gedrukte materiaal aan vyf nasionale biblioteke vir bewaring te lewer. Daar is tans nog nie vergelykbare wetgewing oor die bewaring van elektronies geskepte publikasies nie. Dit dra by tot die verganklike aard van aanlyn media.

Wyer blootstelling

Op sosiale media kan jy deur die algoritme wat berigte outomaties vir jou kies, of deur ’n mediasoektog te doen, deurentyd net aan inligting oor ’n beperkte groep temas blootgestel word. Met ’n koerant moet jy meer inligting waarneem op pad na die berigte wat jy soek. Byvoorbeeld: Ek soek inligting oor die verkiesing van 2024. Onderweg na die berig, sien ek ’n opskrif oor ’n nuwe plantspesie wat ontdek is, ’n ontwikkeling wat in ons woonbuurt beplan word, ’n kinderhuis wat dringende geldnood ervaar en waar motorkapings tans gereeld gebeur. Op my eie sou ek waarskynlik nie hierdie inligting gaan soek of raakgeloop het wanneer ek deur berigte op elektroniese media gerol het nie. Nie alleen sou my kennis beperk gebly het nie, maar dit sou selfs die welstand en veiligheid van my en my gemeenskap beïnvloed het.

Beter leeservaring

In ’n vorige artikel het ek genoem hoe die lees van gedrukte media onder meer konsentrasie verbeter, stremming op die oë verminder, beskikbaar is tydens beurtkrag en selfs dat die organiese verbindings in ink en papier reuke skep wat die brein positief stimuleer. Vir getroue koerantlesers is die taktiele ervaring van deur die koerant blaai net so genotvol as die lees van die nuus. Bowendien is dit makliker om berigte te vergelyk met twee uitknipsels langs mekaar, eerder as op twee skerms langs mekaar.

Werkskepping en sosiale kontak

Die druk en verspreiding van koerante skep werk op verskeie vlakke. ’n Mens sal dadelik dink aan almal wat by die drukproses betrokke is, maar ’n lid van AfriForum bied ’n verdere perspektief op die saak. Sy skryf:

Goeiedag, my naam is Shirley, ek bly in Polokwane en verkoop al vir die laaste 14 jaar koerante. Ek is baie bekommerd – wat gaan ek doen as die koerante nie meer verskyn nie? Dit is my enigste bron van inkomste in hierdie stadium. Ek het drie kleinkinders wat ek versorg en ek moet huur, kos, medikasie en dies meer betaal.

Ek het vandag met my kliënte gepraat en hulle is nie tevrede dat koerante kan verdwyn nie, want hulle hou van die gevoel van die papier in hul hande. Sommige van die hoogs bejaardes gebruik nie slimfone nie of het nie wi-fi nie.

As dit gebeur, gaan dit ’n baie groot impak hê op al die mense wat die Rapport koop, sowel as vir ons wat dit verkoop en vir wie dit ons brood en botter is.

Ek ken al my kliënte baie goed en leef vir Sondae.

Shirley wys ook daarop dat vir baie mense wat vereensaam, soos van haar kliënte, die gereelde ontmoeting met ’n koerantverkoper een van die min geleenthede vir sosiale kontak in hulle bestaan is.

Roetine en rituele

Vir talle is koerantlees deel van hulle roetine en ’n gekoesterde ritueel. Hierdie geleenthede is belangrik, want dit skep vir hulle gerusstelling en orde te midde van al die onsekerhede en veranderlikhede van ons bestaan. Vir sommige is die tydjie met die koerant ’n kans om asem te skep te midde van ’n gejaagde dag of naweek. Ander het unieke rituele wat genot bring. ’n Vriend in die 1980’s in Sunnyside het Saterdagaande wakker gebly om dan na ’n kafee te gaan waar die Sondagkoerante net ná middernag afgelewer is. Die “eerste lees” van die week se nuus was sy plesier. ’n Ander vriend skryf van sy broer en dié se hond wat soggens om 04:30 vir die koerantaflewering wag. Die hond gaan haal die koerant, hardloop in die huis in, hou sy voorpoot uit vir ’n “high five”, kry ’n koekie en sit die koerant trots neer. As jy die koekie vergeet, dra hy die koerant weer uit. “Hoe gaan ek nou vir my hond verduidelik as koerante verdwyn?” vra hy. Nuwe roetine en rituele kan geskep word, maar vir mense wat behoefte daaraan het, kan die proses traumaties wees.

Die een ritueel waarvoor Maroela Media, AfriForum en ander selfs al suksesvol in die hof gaan veg het, is die reg dat jou naam (deesdae jou nommer) in die koerant moet verskyn as jy matriek geslaag het. Enkele letters of syfers wat twaalf jaar se bestaan ywer bevestig. Aanlyn gaan net nie dieselfde wees nie!

Taal

Enige hoogsontwikkelde taal se stand word aan die aard en omvang van sy publikasies gemeet. Juis daarom is die verlies aan enige Afrikaanse publikasie ’n swaar slag vir ons taal wat reeds onder groot druk verkeer.

In koerante, soos aanlyn, word nuwe woorde en uitdrukkings dikwels geskep. Dit hou ons taal dinamies en modern. Dink maar aan “tenderpreuers”, “staatskaping” en “hommeltuig”, almal pragtige nuwe woorde wat ons via media leer ken het. Omdat ’n mens meer konsentreer wanneer jy gedrukte media lees, sal taalontwikkeling en spelling veel beter deur jou geassimileer word, as vanaf elektroniese media.

Slotsom

Dat gedrukte koerante ’n belangrike rol vertolk, is dus duidelik. Elkeen kan help om hierdie kosbare bron van inligting te behou. Koop daarom gereeld ’n koerant en teken dadelik die petisie teen die sluiting van Beeld en Rapport.

Soortgelyke plasings