AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie vir 2024 is hier!

AfriForum Sakenetwerk bied in samewerking met Akademia weer eens vanjaar die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aan. Dié kompetisie gee entrepreneurs die geleentheid om hul unieke ondernemings en idees ten toon te stel en word sedert 2017 deur die organisasie aangebied.

Sedert 2017 het meer as 380 entrepreneurs vir die kompetisie ingeskryf en het meer as 20 000 lede van die publiek vir hul gunstelinge gestem. Louis Loubser het in 2017 met sy Tree Hog gewen, in 2018 het die dames van Oh-Lief met die louere weggestap, in 2019 het Marita Bezuidenhout van Magies vol Liefde koning gekraai en in 2021 het Elzabeth van der Bijl (Fynbos SA) in die kategorie vir entrepreneurs wat minder as sewe jaar handeldryf, gewen en Alita du Plessis (Purple Carrot) het in die kategorie vir entrepreneurs wat langer as sewe jaar handeldryf, weggestap met die titel “Entrepreneur van die Jaar”. 2022 se wenner, Bertha Lewis, het skoonskip gemaak met haar pratende beertjie, Lingi. 2023 se titel gaan aan Danie Rossouw, eienaar van The Butcher and Son, wat bou aan ’n nalatenskap vir sy kinders asook hul kinders.

Daar word genoeg tyd gegee om in te skryf met inskrywings wat oopmaak 14 Junie 2024 en weer 29 Julie 2024 sluit.

Om deur te dring na die toptien sal daar ’n tydperk wees waar die publiek en jou volgers vir jou kan stem. Hierdie jaar word jou inskrywing ook noukeurig nagegaan deur ’n interne paneel (AfriForum en Akademia) om seker te maak die toptienportefeuljes wat deurgaan na die beoordelaars is van hoogstaande gehalte. Die kriteria hiervoor bly dieselfde as uiteengesit onder “kriteria”. Om seker te maak dat ons alles van ons kant gedoen het om jou te help met daardie belangrike portefeulje, sal daar ook ’n mentor aan die toptien toegeken word. Die mentor sal jou help met jou portefeulje en jou help om ten volle gereed te wees, sou jy deurdring na die topvyf en finaal. Die mentor sal iemand wees wat voorheen deelgeneem het, ’n borg wat al jare betrokke is by die kompetisie of ’n vorige beoordelaar. Die toptienkandidate sal ’n geleentheid kry om hulself voor te stel aan die beoordelaars en op grond van hierdie voorstelling sal vyf van die toptien genooi word na die finale rondte om dit uit te spook as die een en enigste “Entrepreneur van die Jaar”.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is opgewonde oor die feit dat hierdie kompetisie reeds ag jaar aan die gang is. “Daar is groot pryse op die spel, maar wat hierdie kompetisie uniek maak is die platform wat dit vir die wenner bied. Ons wil entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en ons weet dat dit harde werk verg om in Suid-Afrika sukses te bereik. Ons glo dat die pryse en blootstelling die wenner en die toptien ’n hupstoot met hul onderskeie ondernemings sal gee.”

Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia, is uiters trots daarop dat Akademia ’n vennoot van hierdie entrepreneurskompetisie is. “Dié kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n hupstoot nodig het en bied ook die deelnemers ’n kans om uitstekende advies van kundiges te ontvang.”

Inskrywings open vandag, 14 Junie en sluit op 29 Julie 2024. ’n Uitgesoekte paneel beoordeel die toptien en gee ook terugvoer. Die wenner sal vroeg Oktober aangekondig word.

Skryf in en stap weg met die Entrepreneur van die Jaar-titel, ’n splinternuwe netwerk van entrepreneurs wat jy op hierdie pad sal ontmoet, hope blootstelling, R50 000 kontant, sowel as ’n mediapakket van ons mediavennoot, Maroela Media ter waarde van R50 000. Hou ook ons sosialemediaplatforms dop vir verdere uiteensetting van die pryse waarmee die topvyf huis toe sal gaan. Nie-kontantpryse beloop meer as R200 000 en word geborg deur Acctiva, Steyn IP en Kwikstert, Wolk-Besigheidsbroeikas, Lizette Volkwyn en Solidariteit.

Die vereistes vir die kompetisie is vanjaar verder uitgebrei en die kriteria waaraan die wenner nou moet voldoen sluit in dat die entrepreneur se ervaring ooreenstem met die tyd in die bedryf en hul betrokkenheid by ’n onderneming.

Klik hier en hoor wat vorige jare se wenners te sê het.

Soortgelyke plasings