|

Nuuskommentaar: Onrealistiese nuwe onderwysregulasies bewys noodsaak van gemeenskapsbetrokkenheid

Op 28 Mei vanjaar, letterlik die vooraand van die verkiesing, het Angie Motshekga, die minister van Basiese Onderwys, nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer. Dit het ten doel om minimum norme en standaarde vir die infrastruktuur van openbare skole te bepaal, te sorg dat daar by hierdie bepalings gehou word wanneer nuwe skole of strukture gebou word en om tydlyne te bepaal vir die opgradering van gebrekkige fasiliteite by bestaande skole.

Daar word onder meer voorgeskryf dat alle openbare skole kragtoevoer, watervoorsiening, sanitasiegeriewe, deeglike omheining en leerondersteuningsfasiliteite soos biblioteke, laboratoriums en sportgeriewe moet hê.

Departementele verslae dui aan hoe ver die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente in gebreke bly om openbare skole se infrastruktuur tot aanvaarbare vlakke te ontwikkel.

Die redes hiervoor wissel – van ’n gebrek aan befondsing, tot die wanaanwending daarvan, of bloot dat beskikbare begrotings nie spandeer word nie.

In die verlede is verskeie regsaksies deur nieregeringsorganisasies van stapel gestuur om die departement se wanfunksionaliteit onder die loep te neem. ’n Voorbeeld is die saak van AfriForum en die gemeenskap van Nkungumathe. Die gemeenskap het dringend ’n behoefte aan ’n skool aangesien sommige van hulle kinders tot 20 kilometer per dag te voet moet aflê om onderrig te kry. Onderweg moet hulle dikwels gevare soos slange en vloedwater trotseer. Toestemming en ’n begroting vir die bou van ’n skool is verleen en toe weer deur die departement teruggetrek. Ná ’n regstryd van byna vier jaar het die hof in 2019 beslis dat die skool gebou moet word, maar vyf jaar later is dit steeds nie gedoen nie. Begrotingstekorte ná die Covid-19-pandemie is een verskoning hiervoor.

Daar is vele meer voorbeelde van gemeenskappe wat al jare lank behoefte aan skole en fasiliteite het. Meer as 3 300 van die land se sowat 23 000 openbare skole het byvoorbeeld nog puttoilette. Die krisis is nie tot basiese geriewe soos hierdie beperk nie – selfs leerhulpmiddels ontbreek. In Augustus 2023 het die departement bekendgemaak dat 74,2% van die skole geen biblioteke het nie en 43,1% van die res ’n ernstige tekort aan boeke het. Tans is daar steeds kinders in onder meer Gauteng en die Oos-Kaap wat nie in skole geplaas is nie weens die nypende tekort aan infrastruktuur.

Die nuwe regulasies bepaal dat alle skole binne die volgende 12 tot 18 maande aan minimum energie-, sanitasie- en infrastruktuurstandaarde moet voldoen. Indien nie moontlik nie, moet die bepaalde departement beplanning indien wat aandui wanneer voldoening sal geskied.

Dit skep egter min hoop. Soortgelyke tydraamwerke is in die verlede ook opgestel – aanvanklik met 2013 as sperdatum, later 2016 en toe 2023. Onderwysorganisasies soos Fedsas eis ook dat die regulasies teruggetrek moet word omdat daar nie volledig daaroor met die publiek gekonsulteer is nie.

Hoewel die skielike publikasie van die regulasies dus die indruk kon skep dat die departement van Basiese Onderrig uiteindelik gehoor aan die pleidooie van skoolgemeenskappe gee, is die kans dat betekenisvolle verbeteringe binnekort gaan plaasvind, skraal. Politici en amptenare fokus eerder op ideologiese oefeninge soos die beheer oor skole se taal- en toelatingsbeleide via die Bela-wetsontwerp, as om veilige en menswaardige leeromgewings te skep.

Intrede deur gemeenskappe self, tesame met die ontwikkeling van bekostigbare privaat onderwysinstellings is noodsaaklik om ons kinders van die onbevoegde geploeter van die departement te red.

Soortgelyke plasings