Verval van munisipaliteite in Noord-Kaap bereik krisispunt, AfriForum dien voorstelle in vir regrukplan
Die verval van munisipaliteite in die Noord-Kaap en die agteruitgang van dienslewering en belangrike infrastruktuur het nou ’n kritieke punt bereik. Dít is duidelik uit AfriForum se insette vir die jaarlikse hersiening van munisipaliteite se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) wat die afgelope maand by vyf munisipaliteite in die noordooste van dié provinsie ingedien is. Die erns van verval is volgens AfriForum só omvangryk dat munisipaliteite dringende aandag moet skenk aan die organisasie se voorstelle vir die regruk van tientalle probleme in die Frances Baard- en Pixley ka Seme-distriksmunisipaliteite.
AfriForum-takke landwyd neem jaarliks aan die GOP-proses deel om hierdeur lede se stem te laat hoor en druk op munisipaliteite te plaas om dienslewering op spesifieke terreine op te skerp. Dit bied aan die gemeenskap die geleentheid om aanbevelings te doen oor dit waarvoor munisipaliteite in die daaropvolgende jaar moet begroot.
Volgens Lize-Mari van der Linden, AfriForum se koördineerder vir die Karoo-streek, is ’n munisipaliteit se GOP deurslaggewend vir die volhoubare ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe. “Hierdie plan skets ’n strategiese raamwerk vir onder meer infrastruktuur-, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling en is noodsaaklik vir die toekenning van hulpbronne,” verduidelik sy. “AfriForum se deelname aan hierdie proses is daarom van kritieke belang om te verseker dat die behoeftes en bekommernisse van die publiek geïdentifiseer en uiteindelik as deel van munisipaliteite se ontwikkelingsplanne ingesluit word.”
AfriForum se takke in die noordoostelike streek van die Noord-Kaap het die volgende spesifieke insette gegee aan die onderskeie munisipaliteite:
- Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit (sluit in: Barkly-Wes en Delportshoop)
AfriForum het in sy voorlegging aan die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit onder meer aangedring op die herstel, instandhouding en opgradering van verskeie belangrike infrastruktuur en dienste op Delportshoop. Kwessies wat volgens AfriForum dringend getakel moet word op dié dorp sluit in: die swak toestand van paaie; onvoldoende padtekens en straatnaamborde; verval van die Delportshoop- openbare swembad; opgradering van die waterstelsel en reservoirs om te voldoen aan die vraag weens die uitbreiding van die dorp; onwettige storting van vullis; swak instandhouding van vullisterreine; onbetroubare vullisverwydering; en instandhouding van straatligte.
- Phokwane Plaaslike Munisipaliteit (sluit in: Hartswater en Jan Kempdorp)
Die swak bestuur van vullisterreine in Hartswater en Jan Kempdorp is in AfriForum se kommentaar beklemtoon. Aspekte in dié verband wat volgens AfriForum veral dringend getakel moet word, sluit onder meer in: onvoldoende sekuriteit en toegangsbeheer; onwettige storting buite die terreine; die risiko van ernstige gesondheidsprobleme weens brande wat op die terreine ontstaan of gestig word; en die voorkoms van onaangename reuke in die omliggende omgewing aangesien vullis nie daagliks met grond bedek word nie.
- Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit (sluit in: Prieska, Marydale en Niekerkshoop)
In AfriForum se voorlegging aan dieSiyathemba Plaaslike Munisipaliteitis die volgende sake rakende dienslewering in Prieska spesifiek aangemeld: die swak toestand van paaie in die dorp; swak watergehalte en vertraagde hersteltyd van waterlekkasies; onwettige storting van vullis; die power toestand van die plaaslike vullisterrein; ongereelde vullisverwydering; en swak instandhouding van en onveilige toestande by die Prieska-begraafplaas.
- Siyancuma-munisipaliteit (sluit in: Douglas, Griekwastad en Campbell)
Die kommentaar wat AfriForum aan die Siyancuma-munisipaliteit gelewer het, plaas die fokus op nie minder nie as 17 kwessies wat tans veral in Douglas en Griekwastad aandag moet geniet. Dit sluit onder meer in: die toestand van die kragnetwerk in dié dorpe; die kommerwekkende toestand van die Helpmekaar-hospitaal en -kliniek op Griekwastad en die Hester Malan-hospitaal en die plaaslike kliniek op Douglas; die verval van toeristeaantreklikhede in dié munisipaliteit; die dringende behoefte aan opgradering en instandhouding van die Douglas-rioolverwerkingsaanleg; en die instandhouding van sportfasiliteite en parke.
- Sol Plaatje-munisipaliteit (sluit in: Kimberley)
Verskeie probleme ten opsigte van munisipale dienste en infrastruktuur kom tans voor in die Sol Plaatje-munisipaliteit. In AfriForum se kommentaar aan die munisipaliteit is dié probleme wat in Kimberley aangeteken is, uiteengesit en voorstelle vir die takeling daarvan is gemaak. Kwessies wat dringend gepak moet word, is onder meer: verval van paaie in Kimberley; instandhouding van openbare parke; swak watergehalte en die onvoldoende funksionering van die Gogga-, Riverton- en Newton-pompstasies; die swak bestuur van vullisterreine; onbetroubare vullisverwyderingsdiens; en die kwesbare toestand van die munisipaliteit se kragnetwerk.
“Munisipaliteite in dié deel van die Noord-Kaap ondervind tans ernstige uitdagings ten opsigte van infrastruktuurontwikkeling, dienslewering, omgewingsvolhoubaarheid en maatskaplike aangeleenthede, maar het nou die geleentheid om hierdie probleme te takel. AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteite uit te oefen om toe te sien dat die verval nie net gestuit word nie, maar dat die vooruitgang en ontwikkeling van die streek prioriteit geniet,” benadruk Van der Linden.
Van der Linden moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by gemeenskapsorganisasies soos AfriForum om ook die geleentheid te benut om perspektief te bied op kwessies wat munisipale ontwikkelingsplanne sal verryk. “Deelname van dié aard bevorder ’n waardevolle gevoel van eienaarskap en aanspreeklikheid onder gemeenskapslede en moedig hoër gemeenskapsbetrokkenheid tot voordeel van die hele gemeenskap aan,” verduidelik sy.