Herstelwerk
|

AfriForum help met herstel van die Standerton-SAVF se plafon

Die AfriForum-tak in Standerton het die SAVF-gemeenskapsentrum se plafon in Mei herstel nadat die sentrum se dakke in die vorige reënseisoen weens ongure weer beskadig is. Dit het veroorsaak dat ’n gedeelte van die plafon uitgeval het. Die gesondheidsinspekteurs het die sentrum besoek en gewaarsku dat dit dringend herstel moet word anders sal die sentrum gesluit moet word. Dit is toe dat die bestuur van die SAVF-gemeenskapsentrum AfriForum se Standerton-tak om hulp nader.

Gedurende hierdie projek is daar aandag gegee aan die plafon in die kombuis. Die tak het met behulp van ’n kontrakteur die nodige werk gedoen om die plafon te herstel. Daar word ook beplan om die kombuis se dak te herstel en die nodige aankope is reeds gedoen sodat die werk eersdaags kan begin. Wanneer die dak herstel is, sal die plafon nie weer skade gedurende onweer opdoen nie.

“Organisasies soos die SAVF doen ongelooflike werk vir die gemeenskap, daarom sal ons as AfriForum help waar ons kan om die SAVF se deure oop te hou. Dis belangrik om die gebou in stand te hou vir die veiligheid van die personeel en inwoners,” sê Leon Enslin, voorsitter van die AfriForum-tak in Standerton.

Inwoners word versoek om AfriForum se Standerton tak te ondersteun, besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings