Straatligte in Meyerspark word stelselmatig herstel
AfriForum se Pionier-tak in die Meyerspark-omgewing in Pretoria het hande gevat met die plaaslike raadslid en ondernemings om die probleem met straatligte wat nie werk nie, op te los. ’n Gesertifiseerde elektrisiën is aangestel om die herstelwerk te doen.
Hierdie projek is in middel April afgeskop en is die eerste projek wat onder die nuwe memorandum van verstandhouding met die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit voltooi is.
“AfriForum glo dat die kwessie met straatligte wat buite werking is nie naastenby genoeg aandag geniet nie en dringend aangepak moet word. Die donkerte waarin die omgewing gehul is, laat ’n groot veiligheidsrisiko vir die gemeenskap,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
’n Afstand van sowat 28 kilometer se straatligte is tydens hierdie fase van die projek herstel.
“Ons is bewus van die uitdagings met die herstel van straatligte weens onder meer die verouderde netwerk en vandalisme – boonop is daar ook nog beurtkrag wat Eskom toepas – wat veroorsaak dat ligte bedags aan is maar saans is dit af. Ons doen ons bes om hierdie kwessie ook so gou moontlik op te los,” sluit Ungerer af.
AfriForum sal verder in die omgewing met die nodige rolspelers saamwerk om te verseker die probleem word gou opgelos.