|

Rommel vir rande: AfriForum se Naboomspruit-tak help laerskoolleerlinge met herwinning

AfriForum se Naboomspruit-tak in Mookgophong het op 15 Mei hul Rommel vir rande-projek in die dorp afgeskop deur ’n herwinningspunt by Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool aan te bring.

Hierdie laerskool het verlede jaar met ’n herwinningsprojek begin, waar die skool plastiekbottels, blikkies en proppies versamel en dit dan aan ’n herwinningsmaatskappy verkoop. Dis ’n wen-wen situasie want soos die leerders van herwinning leer, samel die skool ook fondse in.

Met die skenking van die netjiese herwinningspunt het die AfriForum-tak hierdie skoolprojek nog meer vergemaklik. Nou kan die leerders self die items herwin deur dit in die regte ‘drom’ te gooi. Daar is vier ‘dromme’ wat onderskeidelik “proppies”, “plastiekbottels”, “botterbakkies” en “blik” gemerk is.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak. Hierdie is net nog ’n stukkie gereedskap wat leerders kan inspan om in hulle gemeenskappe ’n verskil te maak. Herwinning is ’n volhoubare manier om hulpbronne te gebruik sonder om enige skade aan die omgewing aan te rig,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Die AfriForum-tak in Mookgophong beplan om in die komende paar maande verskeie projekte aan te pak om onder meer dié dorp se paaie en parke in stand te hou. Die tak benodig egter die gemeenskap se inkoop om van hierdie projekte ’n sukses te maak. Besoek “AfriForum Naboomspruit” op Facebook vir meer inligting oor die toekomstige projekte of stuur ’n epos aan tesourier.naboomspruit@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings