|

Anglo-Boereoorlog-monument op Zeerust weer opgeknap

’n Monument en terrein op Zeerust, ter nagedagtenis aan burgers van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) wat in 1900 en 1901 tydens drie veldslae gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) omgekom het, is in April weer deur AfriForum se plaaslike tak opgeknap.

Dié monument, bekend as die Burgermonument, is geleë op die hoek van Hendrik Potgieter- en Forsmanstraat en bestaan onder meer uit ’n gedenkmuur met ’n naamlys van burgers wat tydens die Slag van Kleinfontein, Buffelshoek (ook bekend as die Slag van Elandsrivier) en Lichtenburg gesneuwel het, sowel as oorspronklike grafstene van enkele van dié oorlede burgers. Dit gedenk ook burgers wat by die Beleg van Mafeking omgekom het sowel as gestorwe burgers van die Marico-omgewing wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Die veldslae van Kleinfontein, Buffelshoek en Lichtenburg het onderskeidelik op 24 Oktober 1901, 4 tot 16 Augustus 1900 en 3 Maart 1901 plaasgevind, terwyl die Beleg van Mafeking langer as 200 dae lank, vanaf 13 Oktober 1899 tot 17 Mei 1900, geduur het.

AfriForum se Zeerust-tak het in Mei 2021 verantwoordelikheid vir die instandhouding van hierdie geskiedkundige baken geneem en verseker sedertdien dat die terrein netjies gehou word.

“Ons is dankbaar vir die voorreg om hierdie monument te kan onderhou. Teen die tyd wat ons die verantwoordelikheid vir die instandhouding oorgeneem het, was die terrein in ’n kommerwekkende toestand. Dit was gehawend, vuil en plante het die terrein oorgroei,” verduidelik Pierre van der Walt, ondervoorsitter van die Zeerust-tak. “Ons sal egter met trots voortgaan om hierdie baken te bewaar en die instandhouding van die terrein voort te sit.”

Volgens Armand Viljoen, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Marico-streek, stuur hierdie projek ’n belangrike boodskap uit. “Hiermee neem AfriForum en die Zeerust-tak nie net verantwoordelikheid vir die instandhouding van ’n terrein wat weens swak dienslewering andersins net verder sou verval het nie, maar ons benadruk ook hiermee dat die bewaring van ons geskiedenis prioriteit moet geniet. Hierdie monument vorm deel van ’n ryke stuk streeksgeskiedenis wat in die konteks van die breër geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog onthou moet word,” verduidelik Viljoen.

Om by dié en ander projekte in en om Zeerust betrokke te raak, word die gemeenskap aangemoedig om by dié tak aan te sluit. Kontak Van der Walt (082 569 8564) vir meer inligting.

Meer oor die Zeerust-burgermonument

  • Die Slag van Kleinfontein, waar Boeremagte onder leiding van genls. J.C.G. Kemp en J.G. Celliers geveg het, het nagenoeg 7 km wes van die huidige Groot Marico plaasgevind. Die name van 20 burgers wat in hierdie veldslag gesneuwel het, verskyn op die gedenkmuur van die Burgermonument.
  • Tydens die Slag van Buffelshoek het die bekende Leeu van die Wes-Transvaal, genl. Koos de la Rey, met sowat 500 burgers van die Lichtenburg-, Marico- en Krugersdorp-kommando’s ’n Britse kamp naby die teenswoordige Swartruggens gedurende die nag van 3 op 4 Augustus 1900 omsingel. Die kamp is uiteindelik 13 dae lank beleër. Die name van ses burgers wat tydens die gevegte gedurende die beleëring gesterf het, verskyn op die Zeerust-monument se gedenkmuur.
  • Die name van die agt burgers wat tydens die Slag van Lichtenburg gesneuwel het, se name verskyn ook op hierdie gedenkmuur. Dié slag het op die dorp Lichtenburg plaasgevind toe genl. De la Rey sy tuisdorp aangeval het. Die dorp was reeds sedert November 1900 deur die Britte beset, en in Maart 1901 het De la Rey besluit om die dorp aan te val, maar kon nie daarin slaag om die dorp in te neem nie. Na afloop van dié aanval het lt.kol. C.G.C. Money, onder wie se bevel die Britse garnisoen in Lichtenburg gestaan het, opdrag gegee dat alle wilgerbome langs Lichtenburg se strate afgekap moes word (aangesien die bome die Britte se skootplasing tydens die aanval taamlik belemmer het).

Soortgelyke plasings