Heilbron-tak rig eerste noodwaterpunt op te midde van waterkrisis in dorp
Die AfriForum-tak in Heilbron het hul eerste noodwaterpunt by 83 Greenmanstraat opgerig. Gert en Ralie Faul, die eienaars van dié eiendom, was goedgunstig genoeg om hul boorgat beskikbaar te stel en die tak het ’n watertenk met ’n kapasiteit van 5 000 liter opgerig.
Die tak is genoop om hierdie watertenk op te rig weens die voortslepende waterprobleme in dié dorp. Randwater het watertoevoer verminder en AfriForum is tans in ’n hofgeding met dié waterverskaffer hieroor. Dit is wel ’n ingewikkelde saak aangesien daar vasgestel moet word of die water verminder word weens wanbetaling of omdat daar nie water beskikbaar is nie.
Die Heilbron-tak sal die situasie moniteer om te bepaal of nog noodwaterpunte elders in die dorp opgerig moet word. Indien nog noodwaterpunte nodig is sal die tak staatmaak op donasies vanuit die gemeenskap om die punte op te rig. Inwoners wat bereid is om boorgate hiervoor beskikbaar te stel kan vir Gerrie Muller, die takvoorsitter, skakel by 083 620 7018.
“In elke krisis is daar ’n geleentheid vir ’n gemeenskap om hande te vat en saam te werk om ’n oplossing te bereik. Ons weet dat Heilbron dié krisis ook sal oorleef mits almal saamwerk,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Muller sê dat water ’n basiese mensereg is – dis ’n behoefte. “Ongelukkig is almal nie so bevoorreg om ’n boorgat of opgaartenk te hê om te help nie. Dit sal goed wees as die gemeenskap saam met ons hierdie inisiatief kan dryf sodat ons mekaar kan help deur hierdie moeilike tyd.”
Maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap en raak vandag nog by die Heilbron-tak betrokke. Kontak Paul Bergh by 081 354 3073 of besoek www.wordlid.co.za.