Die merkwaardige Joachim von Dessin
Suid-Afrikaanse Biblioteekweek is van 15 tot 24 Maart 2024 gevier, maar wat is die geskiedenis van die oudste behoue biblioteekversameling in die land?
Dit alles het begin by ’n man met die naam Joachim Nikolaus von Dessin. Hy is in 1704 in die Noord-Duitse hawestad Rostock gebore as die oudste van die twee seuns van Christian Adolf en Margaretha Elisabeth von Dessin. Hulle was aristokrate en Christian was in diens van koning Karel XII van Swede.
Joachim se lewe het dus in luukse omstandighede begin, maar van sy twaalfde jaar af, het alles dramaties verander. Sy moeder is oorlede en sy vader is krygsgevange geneem. Die gesin het verarm, maar gelukkig het die Markgravin van Brandenburg, ’n Pruisiese prinses, haar skynbaar oor hom ontferm. Hy het dus op die ouderdom van 13 ’n hofknaap aan die hof van markgraaf Albert Friedrich von Brandenburg, ’n neef van koning Frederik I van Pruise geword en aan die Koninklike Joachimsthaler Gimnasium in Berlyn gestudeer. Daar het hy onder meer Frans asook Latyn geleer, sy vader trots met sy voorbeeldige gedrag gemaak.
In 1725 het hy die hof verlaat, ’n ruk lank van sy moeder se erfporsie geleef en op 7 November 1726 as soldaat in diens van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) na die Kaap vertrek. Waarom hy dié besluit geneem het, is nie seker nie. Teorieë sluit in dat armoede hom tot die drastiese loopbaanverandering laat oorgaan het, ander dat sy loopbaan na die dood van die markgravin in ’n doodloopstraat beland het, of selfs dat hy in ’n tweegeveg betrokke was en daarna moes vlug.
Wat die rede ook al was, hy het in die Kaap as gewone soldaat aan wal gegaan en diens gedoen, tot sy goeie geleerdheid in 1729 tot gevolg gehad het dat hy ’n pos in die Sekretariaat van Justisie kon kry. Hier het hy verder geleer en ook begin om as notaris ’n byverdienste te kry.
Op 10 Desember 1730 is hy met Christina Ehlers getroud. Sy was die dogter van die meesterbakker en vryburger Christian Ehlers en Barbara de Savoye, en is in 1703 aan die Kaap gebore. Joachim en Christina se enigste dogtertjie, Barbara Theresia von Dessin, is op 16 Desember 1731 gebore.
Deur die jare het hy talle kere bevordering gekry en verder die gesin se verdienste aangevul met die genoemde notariële werk, maar ook deur verblyf aan besoekers aan die Kaap aan te bied, finansiële transaksies te doen en met eiendomme en vee te spekuleer. Deur harde werk, uitstekende besigheidsvernuf, goeie konneksies en erfporsies van sy ouma en oom wat hy later in sy lewe ontvang het, het hy ’n welvarende man geword, maar dit het hom nie van tragedie gespaar nie.
Sy dogter is in 1750 oorlede en sy vrou in 1752. Sy gesondheid het hierna verswak en in 1757 het hy gevolglik uit diens van die Kompanjie getree. Sy laaste jare het hy tot sy dood op 18 September 1761 in sy huis in Waalstraat, Kaapstad, in die geselskap van sy versameling boeke deurgebring.
In sy testament het hy sy 3 856 boeke, wat nege atlasse en 72 manuskripte ingesluit het, plus ander items en ’n bedrag geld vir die aankoop van nuwe boeke aan die Kaapse Kerk (vandag die NG Kerk) bemaak. Hy het versoek dat die versameling tot nut van die gemeenskap aangewend moes word. Dit was in daardie stadium die grootste versameling boeke in die Kaap en het die kern gevorm waaruit die Suid-Afrikaanse biblioteekwese ontwikkel het.
Die boeke het hy versamel ten spyte daarvan dat daar geen boekhandelaar aan die Kaap was nie. Dit kon hy regkry deur boeke uit Europa te bestel, maar ook plaaslike veilings by te woon. Verder het goeie vriende boeke aan hom geskenk. Dit het werke oor ’n wye spektrum onderwerpe ingesluit – van die regswese tot natuurkunde.
In Europa het openbare biblioteke eers in die 1850s algemeen ontstaan, dus was Joachim sy tyd ver vooruit met die idee dat die gemeenskap by sy nalatenskap moes baat en dat dit selfs aangevul moes word.
Aanvanklik het die kerkraad ’n gebou vir die versameling laat inrig en die publiek kon boeke daar uitneem, maar die Kapenaars was lui lesers en min het van die geleentheid gebruik gemaak. In 1818 het Lord Charles Somerset belastingmaatreëls ingestel om ’n gratis biblioteekdiens aan die Kaap op die been te bring en in 1820 is Joachim se boekversameling na dié instelling oorgedra. Dit het mettertyd as die Suid-Afrikaanse Biblioteek bekendgestaan en vorm vandag saam met die Staatsbiblioteek in Pretoria deel van die land se Nasionale Biblioteek.
Von Dessin word onthou as ’n gewilde en gekultiveerde man met ’n helder verstand en lewendige humorsin. Van hom is gesê dat hy nooit sy Duitse erfenis vergeet het nie, maar die Kaap as tuiste aangeneem het en deur en deur Kaaps-Hollands geword het in sy godsdiens, taal en lewenswyse.
Dit is jammer dat meer mense nie vandag van hierdie besondere man weet nie. Op die Engelse webblad van die Nasionale Biblioteek word nie eens direk na hom en sy kosbare erflating verwys nie …
As jy weer lekker lees, dink aan Joachim wat byna 300 jaar gelede net so lekker tussen ’n boek se blaaie kon verdwaal.