|

Moreletapark-tak help om padveiligheid by Wingate Park Country Club op te skerp

AfriForum se Moreletapark-tak het opnuut bewys dat hy nie huiwer om plaaslike sakeondernemings te help wat Pretoria-Oos wil verbeter nie. Die tak het verlede week hande gevat met Wingate Park Country Club en sy volhoubaarheidsprojek afgeskop deur padveiligheid by die klub op te skerp.

Die tak het die teerpad in die klub eerste getakel en altesaam 800 m se lyne geverf. Drie spoedhobbels en die padmerkers by twee stopstrate is ook oorgeverf. AfriForum se Moreletapark-tak het onderneem om dié gholfklub te help om sy pad in stand te hou sodat gemeenskapslede dié klub met gemak kan besoek. Die tak gaan deur die loop van die jaar verskeie volhoubaarheidsprojekte by die gholfklub aanpak.

“Dit is belangrik om privaat ruimtes wat vir ontspanning gebruik word, in stand te hou sodat almal daarvan gebruik kan maak, veral omdat openbare ruimtes wat onder die bestuur van munisipaliteite is nie altyd veilig is of goed onderhou word nie. AfriForum se Moreletapark-tak is daartoe verbind om plaaslike sakeondernemings en privaat ontspanningsfasiliteite op allerlei maniere te ondersteun om die vooruitgang van die gemeenskap te bewerkstellig,” sê Sampie Steinberg, distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-streek.

AfriForum se Moreletapark-tak moedig die publiek aan om by die tak betrokke te raak om nog verbeteringe in die gebied te sien gebeur. Besoek www.wordlid.co.za vir nog inligting.

Soortgelyke plasings