|

COVID-19: AfriForum-tak in Heilbron help met siftingstoetse en voorsien kospakkies

Die AfriForum-tak in Heilbron het op ’n amptelike versoek van die Departement van Gesondheid op 18 April 2020 gehelp om meer as 200 siftingstoetse vir die koronavirus onder lede van die gemeenskap te doen. Die siftingstoetse behels ’n paar vrae aan die persoon, asook die neem van die persoon se temperatuur. Ongeveer 1 500 mense is oor drie dae bereik en aan die toetsing onderwerp. Slegs een persoon vanuit die 269 wat die vraelys by ’n spesifieke punt beantwoord het, is vir verdere toetse na die hospitaal verwys.

Danie Knoetze, voorsitter van AfriForum se Heilbron-tak, sê AfriForum sal voortgaan om die gemeenskap in dié onseker tye te ondersteun. “Goeie samewerking is nodig om die pandemie hok te slaan.”

“Dit is vir my baie positief om te sien hoe die AfriForum-takke in my streek saam met die gemeenskap en ander instansies in die gemeenskap werk. In hierdie tye van nood moet ’n mens bereid wees om hande – of dalk liewer elmboë te vat – en mekaar te help,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die Heilbron-tak het die gemeenskap ook die afgelope tyd bygestaan deur kospakkies aan gesinne te voorsien wat weens die COVID-19-pandemie in nood verkeer. Met dié inisiatief volg die tak die streng riglyne van Solidariteit Helpende Hand. Die besonderhede van gesinne wat ’n kospakkie ontvang, word ook aan Solidariteit Helpende Hand deurgegee sodat dié gesinne verdere hulp kan ontvang. Hulp wat tot dusver verskaf is, is moontlik gemaak deur skenkings van gemeenskapslede en plaaslike sakeondernemings. Tans word 30 gesinne weekliks van kospakkies voorsien – dikwels ook van vars groente.

“Dit verwarm my hart om hierdie projek te doen saam met mense wat ’n verskil wil maak. ’n Besondere dank gaan aan die plaaslike Spar, wat ons baie help. Die gemeenskap ondersteun die projek ten volle en skenkings kom uit alle oorde. Ek het met hierdie projek geleer jy moet dankbaar wees vir wat jy het. Iets waarvan ek wel kan getuig, is dat God al hierdie skenkings voorsien; ons is net die instrument in Sy hand,” sê Knoetze.

“’n Mens voel klein as jy sien hoe lede van ’n gemeenskap kan saamstaan om dié te versorg wat nie het nie. Ek is dankbaar vir elkeen wat hul harte sonder voorbehoud oopmaak,” sê Pretorius.

Kontak vir Danie Knoetze by 082 974 0055 as jy ’n skenking wil maak.