Boy Looking On A Tidied Desk
|

Nuuskommentaar – Onderwys: Praatjies van suksesse en rekords sommer wolhaarstories

Die afgelope twee weke was sosiale media weer ’n warboel van graad eentjies wat met oorgroot skoolklere, reuse skooltasse en selfs groter ogies ’n dapper glimlag aantrek vir die eerste dag van “grootskool”.

Ouers van nuwe graad 8’s het weer die eerste skooldagfoto’s gaan opdiep en dié saam met foto’s van benoude tieners met ’n string ponies op die kop of ’n lawwe bordjie om die nek geplaas – tekenend van hoërskool se dinge en ontgroening van die nuwelinge op hoërskool.

Die matriekuitslae is ook intussen vrygestel. En terwyl Angie Motshekga, minister van Basiese Onderwys, in haar element is met die nasionale slaagsyfer van 82,9%, is dinge nie naastenby maanskyn en rose in dié departement nie.

Dit hang af wie jy vra en hoe die syfers bewimpel word, maar een ding staan vas – uit die meer as 1,2 miljoen graad eentjies wat in 2012 met tasse vol verwagting hul skoolloopbaan begin het, is daar ’n hele paar honderd duisend wat nie die paal gehaal het nie. Die uitvalle is skrikwekkend hoog. Volgens konserwatiewe berekeninge kom dit daarop neer dat sowat een uit elke vier graad eens van 2012 iewers langs die pad verlore geraak het in ’n stelsel wat met slim politieke praatjies die dieper probleme probeer wegpraat.

In ’n onderhoud wat die Rapport-joernalis Hanlie Retief met Elijah Mhlanga, woordvoerder van die Departement van Onderwys, gevoer het, peper sy hom behoorlik met vrae oor onder meer die kommerwekkende hoeveelheid uitvalle van leerders. Hoewel probleme in die Onderwysdepartement as die logiese rede vir dié uitvalle voorgehou kan word, stem Mhlanga nie saam nie. “Julle vergeet dat baie kinders in motorongelukke sterf, vermoor word of swanger word. So, as jy sê dis ons onderwysstelsel se skuld praat jy, volgens my, nonsens,” was sy antwoord op die vraag oor waarom nagenoeg 300 000 leerders wat in 2012 met graad een begin het, nie daarin kon slaag om in 2023 matriek te voltooi nie.

Intussen het Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, ook van hom laat hoor en gepleit vir “een nasie en een matriekeksamen”, alles in die naam van sogenaamde gelykheid. Hy het ook die Onafhanklike Eksamenraad se slaagsyfer van 98,46% bevraagteken en meen nou dat dit te hoog is en dat die slaagsyfer van die nasionale senior sertifikaat daarop dui dat dié eksamen veel meer uitdagend is.

En terwyl duisende leerders nog wag om geplaas te word by skole, voer die Onderwysdepartement se woordvoerder aan dat die bou van ekstra skole nie dié toenemende probleem sal oplos nie. “Ek sê vir jou, as jy ’n skool bou, dink jy jy los die probleem op, maar jy skep eintlik ’n nuwe een. Ons is die slagoffers van ons eie sukses,” was die departement se selfvoldane én tragiese antwoord aan Retief.

Ramaphosa het op sy beurt hierdie week in sy weeklikse nuusbrief ’n beroep gedoen op maatskappye om meer werksoekers aan te stel en meer opleidingsgeleenthede vir jongmense beskikbaar te maak. Hy wys tereg daarop dat onderwys die belangrikste komponent in die verbreking van die armoedesiklus is, maar wys nêrens op die tekortkominge van ’n stelsel waarvoor hy op die ou end verantwoordelik is nie. Inteendeel, hy het eerder gewys op die nuwe slaagsyferrekord wat die klas van 2023 gestel het.

Mag die rekord toon dat hierdie geen rekord is om op trots te wees nie.

Soortgelyke plasings