Bela-wet: Stryd om gehalte-onderrig te verseker duur voort
Een van die mees kontroversiële konsepwette wat tans voorhande is, is die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as Bela). In Afrikaanse geledere is daar veral kommer oor die uitbreiding van regeringsmagte ten koste van beheerliggame wat die finale besluitnemingsreg oor skole se taal- en toelatingsbeleid aanbetref. Die Afrikaanse gemeenskap is al herhaaldelik deur ANC-lede van die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys, provinsiale onderwyshoofde, die adjunkminister en die minister van Basiese Onderwys herinner dat die regerende party teen die bestaan van enkelmedium Afrikaanse skole gekant is. Dit geskied ten spyte van dié skole se prestasie, die departement se kastige waardering vir moedertaalonderrig en vele nasionale en internasionale bewyse daarvoor dat dubbel- en parallelmediumonderwysinrigtings mettertyd enkelmediuminstellings in die sterkste taal word. Dat die gemeenskap dus vrees dat hierdie wetgewing die einde van Afrikaanse skoolonderrig sal beteken, is nie sonder rede nie.
Wat toelating aanbetref, is vrese oor departementele besluitneming ook in feite gegrond. Landwyd is dit duidelik dat voldoende infrastruktuur ontbreek en dat die departement nie in staat is om dit beter te bestuur nie. Probleme strek van die gebrek aan spoeltoilette tot tienduisende leerders wat jaarliks nie betyds geplaas word nie. Om hierdie wanbestuur te verbloem, volg die departement die maklike roete om meer kinders in skole te probeer indruk. Dit gebeur nou weer aan die Oos-Rand waar laerskole gedwing word om gr. 8-leerders in tydelike klaskamers op hulle persele te akkommodeer. Tans kan beheerliggame teen dié boeliegedrag wal skop om leerders se fisiese veiligheid en toegang tot gehalte-onderrig te beskerm, maar as hulle hulle finale besluitnemingsmagte verloor, het die owerhede vryheid om te maak wat hulle wil.
Daar is selfs nog meer rede vir teenstand teen Bela. Dit maak naamlik voorsiening vir sodanige streng beheer oor tuisonderrig, dat indien die wetsontwerp aanvaar word, dit haas onmoontlik gaan wees om hierdie soort onderrig voort te sit.
Bela het ook weinig inhoud wat dissiplineprobleme en die veiligheid van almal op skoolgronde in die toekoms gaan beskerm. Waar geweld en boeliegedrag by skole deur verskeie onlangse studies uitgewys is as een van die grootste probleme in die onderwysstelsel, is dit ’n groot teleurstelling.
Dan maak die wetsontwerp ook geen voorsiening vir hibriede onderwys wat sedert die Covid-tyd deel van die land se onderwyslandskap geword het nie.
Verder is die uitbreiding van verpligte skoolbywoning om gr. R in te sluit, lofwaardig, maar prakties en finansieel onuitvoerbaar.
Bela is reeds deur die Portefeuljekomitee en die Nasionale Vergadering aanvaar. Tans dien dit voor die Nasionale Raad van Provinsies. Die publiek het tot 19 Januarie om kommentaar daarop in te dien (sien www.stopbela.co.za vir meer besonderhede).
Die provinsiale owerhede self reël ook openbare raadplegingsessies. Dié in Mpumalanga het reeds plaasgevind, Gauteng beplan skynbaar byeenkomste in Februarie. Die ander provinsies moet nog van hulle laat hoor.
Dit is noodsaaklik dat elke lid van die publiek hierdie geleenthede om beswaar aan te teken, benut. Onderwys is een van die kwessies wat elke mens in die land direk raak, ongeag of jy kinders het, of nie.
Indien die wetsontwerp aanvaar en in werking gestel sou word, sal dit die gehalte van onderrig in die land nog verder verswak. Met ’n jeugwerkloosheidskoers van 43,4% in die derde kwartaal van 2023, is dit noodsaaklik dat ons alles moontlik moet doen om onderwys en opleiding in die land te verbeter. Bela gaan ongelukkig net die teendeel regkry en moet daarom teengestaan word.