|

Nuuskommentaar: Ken jou geskiedenis of word ’n slagoffer van onkunde

Met Erfenisdag wat pas verby is, is dit gepas om weer voorraadopname te doen oor hoeveel ons werklik van die verlede weet. Met rofweg net twee uit elke tien laerskoolkinders in die land wat met begrip kan lees, is die kommerwekkende waarheid dat baie min jongmense iets van die hede weet, wat nog van gebeure tien, vyftig, of ’n honderd jaar gelede.

Dit is noodsaaklik om beide meer oor ons geskiedenis en aktuele hedendaagse sake te weet, want anders het jy geen idee waar jy vandaan kom nie, en nog minder oor waar jy heengaan. Dit beteken dat jy soos ’n borrel deur die wêreld dryf, uitgelewer aan die dwarswinde van enigeen wat jou probeer misbruik deur jou met verdraaide inligting te manipuleer of aan skuldgevoelens uit te lewer.

Tans is daar weer twee sogenaamde ondersoekende Engelssprekende Suid-Afrikaanse joernaliste wat beweer die Anglo-Boereoorlog was ’n daad van aggressie en magsug deur Paul Kruger en die Boere teen Brittanje. Volgens die manne het geen Brit enige belangstelling in die goud of diamante van die Boererepublieke gehad nie. Die konsentrasiekampe was volgens hulle veilige hawes waar vroue en kinders kon skuil. Hulle was sogenaamd vry om daaruit te kom en te gaan soos hulle wou. Die sterftes daar was kastig te wyte aan die mense se eie onhigiëniese gewoontes en die Boeremagte wat die kos wat daarheen onderweg was, gesteel het. So kan ek aanhou aanhaal. Hulle bewerings raak net al meer belaglik. Boonop swaai hulle ook lustig met die teerkwas rond – historici soos prof. Fransjohan Pretorius en Thomas Pakenham wat oor dekades diepgaande historiese navorsing onderneem het, word van eie politieke agendas beskuldig.

Dit herinner baie aan die Britse politikus, Jacob Rees-Mogg, se soortgelyke verdigsels van enkele jare gelede om die “Empire” beter te laat lyk en sy eie politieke agenda te bevorder.

Hoe reageer ’n mens op die soort snert?

Destyds het mense Rees-Mogg genooi om Suid-Afrika te kom besoek, wat werklik ’n belaglike reaksie was. Sy uitlatings was nie die gevolg van onkunde nie, maar van ’n agenda wat hy doelbewus dryf – presies soos Julius Malema wanneer hy beweer dat alle wit plaaseienaars in die land die grond gesteel het. ’n Geskiedenisles of alles-betaalde vakansie in die suide van Afrika gaan hulle nie tot nuwe insigte bring nie. Hulle ken die feite, maar dit pas nie hulle agenda nie, daarom verdraai hulle dit doelbewus en maak staat daarop dat mense wat van hulle bewerings kennis neem, nie genoeg weet om daardeur te sien nie.

Vir hulle is geskiedenis nie iets om te koester en so betroubaar en objektief aan die geslagte na ons oor te dra nie, maar eerder ’n stuk gereedskap wat jy kan omvorm om dit vir jou eie hedendaagse doeleindes misbruik, sonder enige gedagte aan die geslagte voor óf na jou.

Hierdie kastige ondersoekende joernaliste se name en sosialemedia-adresse gaan ek nie eens noem nie. Met hulle aanvegbare en aanstootlike bewerings, probeer hulle sensasie opwek en waarskynlik ook voete na hulle mediaprofiele lok. Waar die enkele mense wat wel van hulle stories bewus was, hulle aangevat het, het hulle die feite wat voorgehou is geïgnoreer of net verder verdraai. Hulle is randfigure met ’n anti-Afrikaner agenda wat verdien om geïgnoreer te word en nie prominensie moet kry deur die verdeeldheid wat hulle probeer aanstig nie.

Dit is egter nie genoeg nie. Om te weet hoe belaglik hierdie bewerings is, moet ’n mens kennis dra van Britse imperialisme en kolonialisme, nie net plaaslik nie, maar ook elders in die wêreld. ’n Mens moet bronne se inhoud en oorsprong teen mekaar opweeg. Jy moet die skrywers se agendas probeer verstaan. As bewerings oor meer onlangse gebeure gaan, praat met mense wat self daar was.

Ek het as jong navorser die voorreg gehad om met mense te praat wat die Anglo-Boereoorlog beleef het en wat eerstehands kon vertel van die wreedhede wat hulle ervaar het. Dit maak my persoonlik baie meer kwaad oor die mense se stories oor hoe wonderlik die konsentrasiekampe was. Byvoorbeeld: As hulle vertel hoe vroue en kinders van die plase verwyder is “om hulle te beskerm”, onthou ek tannie Rabie wat my vertel het hoe die dorpie Parys afgebrand is (soos byna 40 ander dorpe in die republieke) en hoe sy, haar boeties en sussie en hulle ma saam met die ander dorpsmense in veetrokke ingedruk en vervoer is. Dan wil ek vra “So waar is die beskermende menslikheid waarvan julle praat in die storie, menere?” So kan elkeen van hulle verdigsels ook met feite en eietydse dokumentasie verkeerd bewys word, mits ’n mens van dié bronne weet.

Hierdie is nie ’n oproep dat almal nou geskiedenisnavorsers moet word nie, maar eerder dat ons wyd moet lees en onafhanklik moet dink – beide oor die verlede en die hede. Erfenisdag bied ’n goeie geleentheid om na geloofwaardige inligting oor ons geskiedenis te begin soek, maar ons kan dit enige tyd oor enige onderwerp doen. Dit maak ’n mens net soveel sterker teen die vals nuus en ideologiese aanslae van ons tyd as jy ingelig is.

Soortgelyke plasings