“Kill the Boer”-saak: AfriForum bring amptelike aansoek by Appèlhof ná waarnemende appèlregter Keightley nie self onttrek nie
Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n amptelike hofaansoek by die Hoogste Hof van Appèl ingedien waarin die organisasie versoek dat waarnemende appèlregter Raylene Keightley van die “Kill the Boer”-saak onttrek word.
Dit volg nadat die Registrateur van die Hoogste Hof van Appèl AfriForum se regspan ingelig het dat sy regter Keightley versoek het om nie nou te reageer nie, maar eerder te wag dat AfriForum ’n amptelike hofaansoek bring.
Op grond hiervan het AfriForum nou voortgegaan om ’n amptelike hofaansoek te bring wat vra dat regter Keightley onttrek moet word en die paneel wat moet beslis oor AfriForum se appèlaansoek teen Julius Malema en die EFF se “Kill the Boer”-dreunsang, hersaamgestel moet word.
Dié aksie volg ná onthullings dat waarnemende appèlregter Keightley sterk menings teen AfriForum uitgespreek het in ’n 2018 hofsaak, wat daarop dui dat die organisasie aan “anachronistiese posisies” vasgeklou het. Tydens daardie saak het Keightley ook gesê dat AfriForum dit moontlik mag oorweeg om haar onttrekking te vra indien sy enige toekomstige saak waarby hulle betrokke is sou voorsit – ’n situasie wat nou met die “Kill the Boer”-saak in die Hoogste Hof van Appèl ontstaan het.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, is AfriForum se hofaansoek daarop gerig om die geloofwaardigheid van die regbank in beskerming te neem. “Regters met duidelike en selfs uitgesproke vooroordele, soos in Keightley se geval, skep ’n wesenlike risiko om vertroue in hierdie deurslaggewende regsinstellings te erodeer. ’n Regter wat werklik die integriteit van ons regstelsel respekteer, moet omsigtig optree en hulleself onttrek uit sake waar hulle weet ’n potensiële botsing van belange of duidelike vooroordeel bestaan,” voeg Van Zyl by.