| |

AfriForum se Sasolburg-buurtwag snoer kragte saam met SAPD in Operasie Shanela

AfriForum se Sasolburg-buurtwag het die afgelope naweek die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) suksesvol bygestaan in die uitvoering van Operasie Shanela. Nagenoeg 40 suksesse is hiertydens behaal, waaronder arrestasies vir oortredings van die Nasionale Padverkeerswet, die Nasionale Drankwet (onder meer vir die gebruik van alkohol in die openbaar) en die verhindering van ’n polisiebeampte om sy pligte uit te voer.

Operasie Shanela is in Mei vanjaar bekendgestel en bestaan volgens die SAPD hoofsaaklik uit die implementering van padblokkades, voertuigkontrolepunte, sigbare patrollies (waaronder voetpatrollies), opsporing van veral gesoekte moord- en verkragtingsverdagtes en voldoeningsinspeksies by drank- en tweedehandse handelaars.

Volgens Johan Potgieter, buurtwagleier van Sasolburg, doen die Sasolburg-buurtwag deur die loop van ’n week verskeie patrollies in verskillende gebiede. “Die buurtwag doen ten minste een operasie per week saam met die SAPD. Aangesien die polisie ’n tekort aan mannekrag ondervind, maak die buurtwag hul hande sterker. Samewerking met die polisie op die gebied van misdaadvoorkoming en gereelde patrollies is daarom ’n ideale resep,” verduidelik Potgieter.

Benewens ondersteuning tydens Operasie Shanela, het die Sasolburg-buurtwag ook die naweek bystand verleen met die blus van brande wat op die Wonderfontein-pad buite die dorp ontstaan het. Agt brande het Vrydagnag teen omstreeks middernag hier uitgebreek en die buurtwag kon uiteindelik daarin slaag om twee van dié vernietigende brande te blus. Die Sasolburg-brandweer het die ander brande, wat oor ’n wydverspreide gebied voorgekom het, geblus.

Intussen sit die buurtwag sy weeklikse begraafplaaspatrollies voort en patrolleer die Sasolburg-begraafplaas Sondae van 11:30 tot 13:30. Dit bied aan die gemeenskap die geleentheid om hul geliefdes se grafte onder veiliger omstandighede te besoek.

“Die Sasolburg-buurtwag maak ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap. Die goeie samewerking met die SAPD en sekuriteitsmaatskappye dra by tot dié sukses. Dit bewys net weer dat ons saam sterker is,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier. Pretorius het inwoners van dié dorp aangemoedig om ook by die Sasolburg-buurtwag betrokke te raak.

Word deel van AfriForum se buurtwagte. Besoek www.afriforum.co.za vir meer inligting. Om betrokke te raak by die Sasolburg-buurtwag se projekte, kontak Potgieter by 082 337 5983.

Soortgelyke plasings