AfriForum stel polisieklopjaggids vir skole bekend
AfriForum het gister ’n polisieklopjaggids bekendgestel wat handige riglyne vir skole en ouers insluit. Dit volg ná AfriForum die afgelope tyd verskeie oproepe van bekommerde skole, beheerliggame en ouers ontvang het rondom onsekerheid oor klopjagte wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) by skole uitgevoer het. Die gids gaan egter ook vêrder om wenke in te sluit vir die bekamping van boeliery en hoe om ’n basiese gebeurlikheidsplan vir ’n skool op te stel.
Artikel 10 en 14 van die Grondwet maak onderskeidelik voorsiening vir menswaardigheid en privaatheid, maar daar is wel sekere omstandighede waar hierdie regte ingeperk mag word. Om regmatig deursoek te word, is een van hierdie omstandighede. Die vraag ontstaan hoekom ’n soektog by ’n skool in die eerste plek nodig is?
“Dit is ongelukkig ’n feit dat daar skole in die land is waar dwelms, ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en ander vorme van misdaad hoogty vier,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder. “Verskeie stukke wetgewing magtig die SAPD en ander rolspelers om klopjagte by skole uit te oefen om hierdie tipe misdaad hok te slaan. Die Departement van Basiese Onderwys en die SAPD het voorts ’n verstandhouding in plek dat hierdie tipe inisiatiewe gaan en moet plaasvind om veiligheid in skole te verbeter.”
Kamfer sê waar daar wel rede is om ’n klopjag uit te voer moet dit sovêr moontlik gereguleer wees en met omsigtigheid plaasvind. Wanneer ’n skoolkind deursoek word moet dit in privaatheid gebeur met ’n ander volwassene van die dieselfde geslag wat teenwoordig is.
“Indien die persone wat die deursoeking behartig binne die riglyne en parameters van die betrokke en relevante wetgewing optree, kan die deursoeking nie geweier word nie. Alhoewel ’n persoon se reg op privaatheid deur die Grondwet gewaarborg word en dit blyk of so ’n deursoeking die persoon se privaatheid skend, is dit tog nodig om kriminele vas te trek wat andersins die deursoeking sou kon weier en skotvry sou wegkom,” sê Kamfer.
Dit sluit in enige item waarvan daar ’n redelike vermoede is dat dit vir ’n misdryf aangewend was of sal word. Dit kan ook enige gevaarlike voorwerp soos ’n mes, plofstof of ander wapen of dwelms insluit. Behalwe polisiebeamptes en persone wat deur hulle aangewys word mag die skoolhoof of persone wat hy of sy aanwys ook die deursoeking behartig.
Die gids bevat baie wenke, maar die belangrikste een is om gereed te wees. Dis waar die gebeurlikheidsplan intree. Indien hierdie situasie wel plaasvind, kan die gebeurlikheidsplan uitgehaal en uitgevoer word. So word onsekerheid uitgeskakel, want almal weet wat om te doen. Gebeurlikheidsplanne kan ook vir ander scenario’s opgestel word.
Wat boeliery betref verduidelik die gids wat as boeliery kwalifiseer en hoe om proaktief daarteen op te tree. Dis aangewese vir ’n skool om ’n amptelike beleid in plek te hê om hierdie soort gedrag aan te spreek. Met die uitbreiding van tegnologie het boeliegedrag meer plekke gekry om pos te vat – kuberboelies het byvoorbeeld ’n groot probleem geword.
Ouers en onderwysers moet let op simptome wat dalk daarop kan dui dat ’n kind geboelie word. Simptome van ’n kind wat geboelie word kan onder meer ’n afname in akademiese prestasie insluit of die kind wil nie skool toe gaan nie. Daar is verskeie ander wat by die gids ingesluit is. Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting.
Die gids sluit ook kontakpersone by AfriForum in wat kan help as ’n klopjag nie op voorgeskrewe wyse plaasgevind het nie. Die volledige gids is hier beskikbaar.