Kaapse Forum en Solidariteit stel verslag oor implikasies van raswet op bruin arbeidsmark in Kaap bekend
Die Wysigingswet op Diensbillikheid se primêre doel, volgens die regering, is om diversiteit en gelykheid in die werkplek te bevorder. Luidens ’n verslag wat die Kaapse Forum en Solidariteit vandag in Kaapstad bekendgestel het wat spesifiek op die bruin arbeidsmark fokus, is dié konsepregulasies se doel egter eerder om minderhede in sekere posvlakke uit die arbeidsmark uit te sluit.
Kaapse Forum en Solidariteit is sterk gekant teen hierdie konsepregulasies en gaan ook ’n petisie teen dié regulasies aan die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies oorhandig.
Hierdie wet wat slegs van toepassing is op maatskappye met meer as 50 personeel in diens, gee aan die minister van Arbeid die mag om rasteikens vir spesifieke sektore te stel. Daarom is die verslag Raswet Impakstudie – Bruin Arbeidsmark deur die Solidariteit Navorsingsinstituut opgestel sodat die moontlike impak van die regulasies spesifiek op die bruin arbeidsmark ontleed kan word. Dit volg op die verslag wat verlede week bekendgestel is tydens ’n werkswinkel in Pretoria. ’n Resolusie is ook ná afloop van dié werkswinkel deur meer as 25 organisasies onderteken wat teen dié wetgewing kapsie maak.
Volgens die voorgestelde indiensnemingsregulasies ingevolge die nuwe raswet gaan ongeveer een uit vier bruin werknemers nasionaal vervang moet word om aan die minister van Arbeid se sektorale teikens te voldoen. Bruin werkers in die landbousektor in die Wes-Kaap gaan ook minder gemaak moet word en heelwat bruin vroue in dié provinsie sal vervang moet word.
“Die minister se teikens vereis dat bruin vroue in verskeie sektore deur swart of bruin mans vervang sal moet word. In die Wes-Kaap alleen sal een uit vier bruin vroulike gesondheidswerkers, een uit agt bruin vroulike werkers in die verblyf- en voedselsektor en een uit tien bruin vroulike werkers in handel vervang moet word om die minister se teikens te haal. So ook sal geen nuwe bruin aanstellings in die landbousektor in die Wes-Kaap gemaak kan word nie, want dan sal maatskappye nie meer aan die minister se teikens voldoen nie,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.
Maatskappye het wel vyf jaar om aan die vereistes te voldoen. As dit nie vir ’n onderneming moontlik is om in die teikens in te groei nie, beteken dit dat mense in hul poste rondgeskuif sal moet word om die teikens te haal en sal mense van sekere rasse deur mense van ander rasse vervang moet word. Maatskappye kan ook reuseboetes opgelê word vir die nienakoming van hierdie wet.
Buitensporige groei in die ekonomie is nodig vir hierdie regulasies om toegepas te word sonder dat mense hulle werk verloor. Mulder het op die konferensie gesê ongeveer 12,6 miljoen nuwe poste moet oor die volgende vyf jaar geskep word om almal in hul poste te behou sou hierdie regulasies toegepas word.
“Hierdie regulasies hou kommerwekkende implikasies in vir bruin vroue wat dikwels sorg dat daar kos op die tafel is. Hierdie teikens wat gestel word, is tekenend van die ANC wat direk in die bruin gemeenskap se werkplekke probeer inmeng. Die boodskap wat die ANC met dié teikens aan die bruin gemeenskap stuur, is duidelik – julle sal in die Wes-Kaap verdra word, mits julle in die regte bedrywe werk,” sê Heindrich Wyngaard, voorsitter van die Kaapse Forum.
Luidens die verslag is Gauteng die hartland van die ekonomie, maar om die ministers se teikens te haal, gaan ongeveer 85 000 bruin werkers, 50 000 Indiër werkers en 220 000 wit werkers in dié provinsie vervang moet word.
Volgens Wyngaard lei die kamtige goeie bedoelings om swart mense te bemagtig tot die benadeling van die wit, Indiër en bruin minderhede. “Kaapse Forum sê minderhede verdien meer.”
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dit is noodsaaklik om hierdie regulasies te beveg.
“Hierdie is nie ’n regstellende wet nie, dit is ’n wet wat rasseklassifikasie dryf. Mense van alle kleurgemeenskappe moet opstaan teen hierdie wet.”