Raswet kry uit verskeie oorde teenkanting
Solidariteit het vandag ’n werkswinkel vir verskeie belanghebbendes in Centurion aangebied om die nuwe voorgestelde Wet op Gelyke Indiensneming te bespreek. Dié wet sal kwotas afdwing op ondernemings met meer as 50 werknemers, selfs oor provinsiale grense. Die oorkoepelende gevoel was dat die wetgewing verregaande is en ten alle koste beveg moet word.
Leiers van politieke partye insluitend John Steenhuisen van die DA en Pieter Groenewald van die VF Plus, verteenwoordigers van landbou- en ander organisasie, asook meningsvormers het die werkswinkel bygewoon. Steenhuisen het dié wet as die ANC se openingsalvo vir die 2024-verkiesing beskryf.
“Die werklikheid is dat die ANC-regering basies geen hospitale en skole gebou het nie en al wat hulle nog kan doen is om die raskaart te speel. Ek voorsien ’n situasie wat iemand gaan moet besluit as watter ras iemand geklassifiseer word en dit gaan chaos veroorsaak,” sê Steenhuisen.
Groenewald sê die gevaarlikste ding wat die publiek kan doen, is om kop in die sand te steek en die wetgewing te ignoreer.
“Die ANC kon gekies het om die ekonomie te groei, die werkloosheidskrisis te pak of om misdaad te bekamp, maar hulle kies eerder om ’n wet te skryf wat ongetwyfeld die ekonomie gaan verwoes. Ons moet aksie hierteen neem,” sê hy.
Die ACDP het in hul spreekbeurt gesê bruin mense was onder apartheid benadeel en die proses herhaal homself nou weer onder die ANC-regering. Hulle meen minderheidsgroepe moet saamstaan om teen die voorgestelde wetgewing te veg en ook ekonomiese groei bewerkstellig.
Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het ’n voorlegging gelewer waarin hy die belaglikheid van die voorgestelde wet verduidelik het.
“In ’n ideale scenario sou ’n mens die ekonomie wou groei om die teikens moontlik te maak, maar dit sou beteken dat die ekonomie oor die volgende vyf jaar dubbeld soveel moet groei as die rekordgroei wat al ooit aangeteken is. Dit is dus nie ’n realistiese verwagting nie. Die alternatief is om mense uit poste te verwyder en met ander te vervang om die rassekwotas te haal,” sê Mulder.
“Op sekere vlakke sal twee uit elke drie Indiërs en wit mense oor die volgende vyf jaar hul werk kwyt wees en sal honderde duisende mense uit minderheidsgroepe hul werk verloor. ’n Mens kan aflei dat die ANC-regering wil seker maak dat daar nie ’n ooraanbod van minderheidsgroepwerkers is nie. Die ironie van die saak is dat wat hulle doen nie eens tot voordeel van swart mense sal wees nie.”
Mulder sê die algemene reaksie wat hy kry as hy met mense oor die voorgestelde wetgewing praat, is dat mense dink dit sal nie toegepas word nie, dat dit bloot teikens en nie kwotas is nie en dat dit nodig is vir swart mense om toegang tot die ekonomie te kry.
“Dis ’n brutale sosiaal-gemanipuleerde veldtog wat eintlik sê ons wil julle nie as deel van die ekonomie hê nie. Ek kan ook nie verstaan hoe hulle by hul syfers uitgekom het nie. Om eerlik te wees is ek nie seker hulle weet self hoe hulle by hul syfers uitgekom het nie.”
Mulder sê ondernemings wat in meer as een provinsie sake doen, sal die swaarste trek met die nuwe wetgewing wat hulle sal dwing om aan die vereistes van elke provinsie te voldoen. ’n Onderneming wat nie aan die teikens voldoen nie, kan met enigiets van R1,5 miljoen tot 10% van hul omset beboet word. Ander belanghebbendes wat die werkswinkel bygewoon het, het gesê die teikens is onmoontlik om te haal en dat die beoogde wetgewing “skokkend” en “boos” is.
’n Resolusie is ná afloop van die werkswinkel deur meer as 25 organisasies onderteken om eenparig teen die wetgewing kapsie te maak. ’n Lang hofstryd word in die vooruitsig gestel. Daar is ook voorgestel dat internasionale druk op die ANC-regering toegepas moet word om van die voorgestelde wetgewing afstand te doen. Kommentaar oor die wetgewing kan nog tot 12 Junie ingedien word. Klik hier om meer uit te vind.