Nuuskommentaar: Gautengse skoleplasings vir 2024
Die afgelope jare lewer die plasing van leerders in graad 1 en 8 deurgaans probleme op – veral in die provinsies wat ’n groot toestroming van inwoners beleef, naamlik Gauteng en die Wes-Kaap. Telkemale word beklemtoon dat die skuld hiervoor voor die deur van die Departement van Basiese Onderrig gelê moet word.
Volgens die Internasionale Vereniging vir die Evaluering van Opvoedkundige Prestasie se studie oor die vordering met internasionale leesvaardigheid, PIRLS, oftewel die “Progress in International Reading Literacy Study”, is Suid-Afrika een van die lande ter wêreld wat die grootste gedeelte van sy begroting aan onderwys bestee. Dit is naamlik ’n bedrag gelyk aan 7% van die land se BBP. Tog bly die onderwysdepartement in gebreke om voldoende skole te bou om aan die groeiende leerdergetal se behoeftes te voldoen.
In sommige gevalle is die rede hiervoor dat begrotings vir aanvullende infrastruktuur wanaangewend word, maar in ander, dat dit hoegenaamd nie eens spandeer word nie. Privaatskole vermeerder om aan die groeiende vraag vir skole te probeer beantwoord en veral na afloop van die Covid-19-inperkingstyd, neem die aantal ouers wat tuisonderrig verkies, skerp toe. Dit is egter nie opsies vir alle ouers nie en bied nie verligting vir die jaarlikse nood van duisende leerders nie.
Een daarvan is om eenvoudig te probeer om soveel leerders as moontlik in klaskamers in te druk. Ook in dié verband dui die PIRLS-verslag aan dat die gemiddelde verhouding van leerders per onderwyser in Suid-Afrika die hoogste is van die 57 lande wat aan die navorsing deelgeneem het, naamlik gemiddeld 30. Iran is in die tweede plek met 29 leerders per onderwyser. Selfs 30 is nog ’n goeie scenario, want AfriForum was in die onlangse verlede getuie van skole waar 50 of meer leerders in ’n klas sit, met onvoldoende meubels en handboeke om almal te akkommodeer. Nie alleen het dit uiters swak gehalte onderrig tot gevolg nie, maar skep ook veiligheidsrisiko’s in die geval van byvoorbeeld brande of die uitbreking van aansteeklike siektes.
Wanneer skole sterk standpunt inneem teen die inname van leerders wat oorvol klasse tot gevolg het, is ’n ander strategie dat die departement na die vloeroppervlak van die skool kyk en spesialisasiegebiede soos biblioteke, rekenaarsentrums en laboratoriums as onnodig afmaak. Daar word dan geëis dat dit ook in klaskamers omskep moet word of dat skole eers toestemming van die provinsiale owerheid moet kry voordat dit ingerig word. Weer is dit gehalte onderrig wat in die slag bly, ten koste van leerders se toekomstige studie- en loopbaangeleenthede. Tans is ’n geskatte 4.9 miljoen Suid-Afrikaanse jeugdiges werkloos – syfers wat niks goeds vir die land se ekonomiese groei of maatskaplike stabiliteit voorspel nie.
’n Derde strategie om sondebokke in die plek van die onderwysowerhede vir die gebrek aan skole te vind, is veral in Gauteng sigbaar, waar daar nou al jare lank ’n aanslag teen die voortbestaan van enkelmedium Afrikaanse skole is. Die skole se bestaansrede is eenvoudig om swart leerders te benadeel en maatskaplike samehorigheid te ondermyn, word beweer. Tydens die Gautengse LUR vir onderwys, Matome Chiloane, se mediakonferensie oor die aanlyn skoleplasingsproses vir 2024, het hy weer genoem dat enkelmedium Afrikaanse skole na dubbel- of parallelmedium Afrikaanse en Engelse instellings moet “transformeer” – ’n blatante miskenning van Afrikaanse leerders se taalregte. Hierdie sentiment is ook deur sy voorganger, Panyaza Lesufi, en die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, verkondig. Dat dit ’n doodsvonnis vir die voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal sal beteken, en dus by implikasie ook van die toekoms daarvan as hoëfunksietaal, is vir die regerende ANC geen probleem nie – in teendeel, soos in die verlede al bewys is, is dit ’n ideologiese teiken van dié party se nasionale demokratiese rewolusiebeleid.
Ten einde die aanslag op gehalte Afrikaanse onderwys teen te staan, moedig AfriForum ouers wat hulle kinders vir graad 1 of 8 wil inskryf in Gautengse skole, so vinnig as moontlik van die aanlyn plasingstelsel gebruik moet maak om die kinders te registreer. Die proses open op 15 Junie 2023 om 08:00 en loop op 14 Julie 2023 om middernag ten einde. Dit beteken dat ouers slegs ’n maand tyd het, waarvan drie weke boonop skoolvakansie is. Die beste strategie sal dus wees om seker te maak dat die vereiste dokumente nou reeds by die voorkeurskool ingehandig word en dat die aanlynplasing óp of pas ná 15 Junie afgehandel moet word. ’n Video met volledige inligting oor die proses en vereistes is op die toepassing van die Gautengse onderwysdepartement beskikbaar, en AfriForum sal ouers ook deurgaans hieroor ingelig hou.