| |

AfriForum se Alberton-buurtwag spoor gekaapte voertuig spoedig op

AfriForum se Alberton-buurtwag het op 28 Augustus 2019 ’n gekaapte voertuig in samewerking met die Kathlehong-Noord se SAPD, Alberton se SAPD, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en verskeie veiligheidsinstansies opgespoor nadat daar omstreeks 22:00 ’n versoek vir bystand tydens ’n gewapende roof in Randhart was.

Volgens inligting wat op die toneel ingesamel is, het twee gewapende rowers die slagoffer se wit Opel Corsa-bakkie gekaap. Die slagoffer is met ’n hamer en vuurwapen oor die kop geslaan en is na ’n hospitaal geneem.

Inligting het daarop gedui dat die verdagtes in die rigting van Kathlehong se informele nedersetting gevlug het. AfriForum se buurtwaglede het drie SAPD-beamptes in Katlehong-Noord gekontak, wat dadelik ondersteuning gebied het. Die buurtwaglede en die SAPD het die omgewing deursoek en na ongeveer ’n uur die verlate voertuig langs die pad gevind. Die verdagtes was ook nie op die toneel nie. Die toneel is aan die SAPD oorhandig, waarna hulle die voertuig verwyder het.

“Ons is trots daarop om deel te kan wees van soveel rolspelers wat saamwerk om Alberton te beveilig. Dit is slegs samewerking tussen alle gemeenskapstrukture wat dit moontlik maak om misdaad te bekamp,” sê Louis van Aswegen, voorsitter van AfriForum se Alberton-buurtwag.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Alberton” na 45342 (R1).