Barolong Boo Seleka begin proses om eienaarskap van hul grond te herstel
Die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap het vandag tydens ’n gesamentlike mediakonferensie met AfriForum aangekondig dat dié tradisionele gemeenskap die proses begin het om eienaarskap van hul grond, wat tans in die staat as voog namens die gemeenskap setel, ingevolge artikel 20 van die Wet op Opgradering van Grondbesitregte (wet 112 van 1991), te herstel. Dit volg nadat AfriForum ’n regsmening bekom het wat aangedui het dat dié artikel tans die mees toepaslike wetgewing is wat deur tradisionele gemeenskappe gebruik kan word om eienaarskap van hul grond te herstel. AfriForum het ander tradisionele gemeenskappe aangemoedig om ook van dié bepaling gebruik te maak terwyl dit nog geld, aangesien artikel 20 van die wet sal ophou geld wanneer artikel 46 van die Wet op Kommunale Grondbesitregte (Wet 11 van 2004) moontlik in werking tree.
Artikel 20(1) van die Wet op Opgradering van Grondbesitregte bepaal dat ’n tradisionele gemeenskap die minister kan versoek om eienaarskap van die tradisionele gemeenskap se grond, waarvan die beheer in die tradisionele gemeenskap gesetel is, aan die gemeenskap oor te dra. Artikel 20(2) bepaal dat die minister stappe mag neem om die grond aan die gemeenskap oor te dra indien die grond opgemeet is. Die grond van die Barolong Boo Seleka is opgemete plase en dié proses is dus van toepassing op hul versoek.
“Een van die grootste hindernisse vir ontwikkeling in die landelike gebiede van die land is dat die staat die eienaar van die grond is wat tradisionele gemeenskappe besit. Daarom is dit noodsaaklik dat die eienaarskap van tradisionele gemeenskappe se grond, wat tans in die staat as voog namens die tradisionele gemeenskappe setel, aan die tradisionele gemeenskappe oorgedra word. Ons is oortuig daarvan dat dié stap, om die eienaarskap van ons grond te herstel, die ontwikkeling van ons koninkryk en die gepaardgaande verbetering in ons gemeenskap se lewensgehalte sal versnel,” sê Kgosi Gabo Moroka van die Seleka Barolong.
“Die bestaan van kultuurgemeenskappe is ’n werklikheid, en kultuurgemeenskappe is een van die kosbaarste erfenisse van die land. Die behoud en welstand van gemeenskappe is noodsaaklik en daarom moet daar ’n balans wees tussen die regte van die gemeenskap en die individu. Daar is regspersone en modelle van eienaarskap wat die nodige sekerheid aan individue gee, wat noodsaaklik is vir belegging en ontwikkeling, terwyl dit terselfdertyd gemeenskapsbelange dien. Die oordrag van grondeienaarskap van die staat na tradisionele gemeenskappe is noodsaaklik vir die versterking van gemeenskapselfstandigheid en daarom moedig ons tradisionele gemeenskappe aan om van die regsroete gebruik te maak om die eienaarskap van hul grond te herstel,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
Artikel (20) bepaal verder wat die proses is wat gevolg moet word indien ’n tradisionele gemeenskap se grond nie opgemeet is nie. In só ’n geval mag die minister ’n persoon aanwys wat die haalbaarheid van die versoek moet ondersoek en ’n verslag aan die minister moet lewer. Die minister mag dan, op grond van die verslag, die grond laat opmeet en stappe neem om die eienaarskap daarvan oor te dra. Indien die minister nie die versoek toestaan nie, moet die gemeenskap skriftelik van die redes daarvoor in kennis gestel word. Geen oordragskoste of ander fooie is betaalbaar vir oordrag wat ingevolge dié artikel plaasvind nie.