Federalisme is die boustene na vryheid
Vryheid en federalisme, maar ook hoe vryheid deur federalisme moontlik is, is bespreek tydens die tweede Kajuitraad, wat gister deur Opinor in samewerking met AfriForum aangebied is. Nie net is daar gekyk na wat vryheid werklik beteken nie, maar die verskillende fasette van federalisme is ook deur die onderskeie sprekers bespreek.
Volgens Ernst Roets, bestuurshoof vir strategie by AfriForum, is baie mense op grondvlak ontnugter omdat die politieke stelsel wat veronderstel was om hulle vry te maak, veroorsaak dat hulle nie vryheid ervaar nie en mense begin al hoe meer wonder of daar nie ’n ander manier na vryheid is nie. Wantroue in demokrasie het ook ’n laagtepunt bereik en daarom word die idee van desentralisering van gesag bespreek sodat meer mag in gemeenskappe gevestig kan word. Daar kan nie daaroor gepraat word sonder om oor federalisme te praat nie, het Roets gesê.
Prof. Danie Goosen het die kajuitraad afgeskop deur ’n vergelyking te tref tussen federalisme en sentralisme en het gesê dit is in die moderne politiek die twee oorhoofse politieke alternatiewe. Hy het uitgelig dat al die mag in sentralisme aan die staat behoort en daarteenoor word die gesag in federalisme so laag as moontlik afgewentel. In ’n sentralistiese staat beheer die staat die skole deur middel van staatskole en so ook met universiteite. Alle mag word dus aan die staat toegeken en die staat kan met die beheer van alles as’t ware maak en breek soos hy wil.
Daarteenoor is die federale uitgangspunt met die beginsel van subsidiariteit wat daarop neerkom dat die gesag binne die federale orde verplaas word na die laagste denkbare liggaam Die samelewing kan daarom selfstandig handel en selfstandig wees.
Een van die werklikhede in Suid-Afrika is dat die bevolking nie ’n homogene groep individue is nie, maar ’n gemeenskap van gemeenskappe, het Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, gesê. Buiten die 11 amptelike tale van die land word ongeveer 20 ander tale ook gepraat. “As mens ’n kaart vat wat die provinsiale grense aandui en mens sit die verspreiding van tale wat in elke gebied gepraat word bo-oor, is dit duidelik dat die provinsiale grense nie ’n goeie passing op die taalwerklikhede is nie en dus nie ’n goeie passing op die kultuurwerklikhede is nie.” ’n Werklikheid van die tradisionele gemeenskappe van Suidelike Afrika is dat hulle tradisionele orde het soos bv. die Zulu-gemeenskap wat ’n federale stelsel volg. Die opperhoof meng nie in met die grond wat die hoofman toeken nie en die koning het geen direkte invloed op die toedeling van grond deur die opperhoof nie. Volgens Uys is dit baie anders as ’n sentralistiese staat wat sy gesag afdwing.
“Sentralisering van mag skep risiko’s vir dinge om skeef te loop omdat alle mag by een persoon of ’n klein groep lê. ’n Federale benadering en die desentralisering van mag versprei verantwoordelikhede. Federalisme spreek nie net risiko’s aan nie, maar skep ook geleenthede. ’n Gesentraliseerde regering is verwyder van die gemeenskap.”
Volgens Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton, is daar ’n volhoubare vennootskap tussen kultuur en kapitaal. Dit is ’n groot uitdaging om dit waaroor ons beheer verloor het weer van nuuts af te skep en om soos ons voorouers eie instellings te skep. Aangesien die regering die basiese voorvereistes vir ’n Westerse Afrikaner leefwyse soos die regbank, wet en orde, asook moedertaalonderrig verwaarloos, is daar nog groot uitdagings wat voorlê.
“Ons moet self verantwoordelikheid neem om instellings op te rig wat ons kulturele erfenis in stand hou en uitbou. Ons het ’n verantwoordelikheid om om te sien na ons kultuurerfenis, dit uit te bou en oor te dra na die volgende geslag. Ons kultuur gaan deurslaggewend wees tot ons sukses.”
Dit is duidelik dat kultuurerfenis nie voortgesit kan word deur net Afrikaans by die huis te praat nie, maar dit moet deur ’n verskeidenheid instellings uitgebou word. Die eiendom wat Kanton ontwikkel het ten doel om fasiliteite te bied aan Afrikaanse instellings om leefruimtes vir Afrikaans te skep en smee sodoende ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal.
Afrikaners moet nuut dink om oplossings te kry, het Ernst van Zyl, veldtogbeampte by AfriForum, gesê met sy tema Federalisme vir almal. Mense wat staatstoelaes ontvang is nie die enigstes wat van die staat afhanklik is nie. Almal is afhanklik van die staat wat betref die paaie, water en elektrisiteit. Daar moet ’n groter staatsbestandheid wees en gemeenskappe moet self begin moue oprol en aktief beplan en werk om gemeenskapselfstandigheid te bewerkstellig.
“Federalisme is nie ’n moeilike konsep nie en is net so verstaanbaar soos ander politieke woorde soos demokrasie. Demokrasie is egter meer bekend omdat dit meer gevestig is. Federalisme behels ’n oorkoepelende nasionale regering wat verantwoordelik is vir die breër bestuur van ’n groot grondgebied soos ’n land – terwyl onderafdelings daarvan sake van plaaslike belang in kleiner gebiede soos streke, dorpe en selfs woonbuurte bestuur.” Volgens hom het die Solidariteit Beweging reeds ’n padkaart na groter selfbestuur, outonomie en federalisme op die tafel geplaas.
“Ons voorgeslagte het moedig voortgebou en geveg vir dit wat reg is. Hoe ons beplan en reageer op die struikelblokke wat in ons pad staan, gaan net so bepalend wees vir ons soos wat dit vir ons voorgeslagte was. Ons het een keuse: Gaan ons opgee en handdoek ingooi omdat ons uitdagings te groot is of gaan ons die taak van ons eeue aanpak?”
Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, het vertel Orania is veel meer as die inwoners wat daar bly of die geografiese plek. As mens Orania as ’n lyn deur die geskiedenis trek is dit belangrik om te sien waar mens vandaan kom, maar ook omdat daardie lyn wys waarheen mens op pad is. Afrikaners het verskeie voertuie regoor die geskiedenis gebruik om ons na vryheid te neem. Die vierde voertuig na vryheid is volgens Strydom ’n samevoeging van die idee van trek, om jou waarde so hoog te ag dat jy bereid is om te verhuis en te verskuif, maar ook deur politieke organisering nie met partypolitiek nie, maar met geleenthede soos die Kajuitraad, instellings en bv. die Orania-gedagte. Federalisme en die Orania-gedagte kan ook voertuie wees.
“Niemand gaan vir ons vryheid gee nie. Die magshonger ANC gaan nie mag tot op gemeenskapsvlak laat afwentel nie. Die Orania-manier is om vryheid en verantwoordelikheid self op te neem deur eie instellings te bou, eie grond te hê wat wettig bekom is en die idee van eie arbeid.”
Volgens Strydom is daar geen vryheid of federalisme sonder dat Afrikaners hul eie gebied bewoon, bewaar en bewerk nie. Afwenteling van mag is dalk die voertuig na vryheid, maar daar moenie vergeet word om dit waarmee Afrikaners nou besig is te geniet nie.
Monica Mynhardt het federalisme as ’n uitgangspunt eerder as ’n eindpunt aangebied en gesê die fondamente van federalisme is die boublokke wat gebruik word om ’n politieke oplossing te kry. Volgens Johannes Althusius, Duitse politieke filosoof wat beskou word as die vader van onder-na-bo-federalisme, word daar by die kleinste boublok begin as verwysingspunt. “Met ander woorde daar moet eerder by die kleinste boublok bv. die skool begin word eerder as die oorhoofse staat wat die eindpunt is.”
Mynhardt het benadruk dat daar anders gedink moet word oor federalisme. Dit kan net werklik werk as federalisme van onderaf begin. As gemeenskappe slaggate vul, sonpanele oprig en hulself beveilig dra hulle by tot federalisme. Waar die staat faal om dienste te lewer en gemeenskappe self verantwoordelikheid neem – dit is federalisme.
Tydens die laaste paneelgesprek het die laaste drie sprekers gesê vryheid is die verantwoordelikheid en opofferings wat jy maak om jou plig te doen. Dit is om vry te wees, om nie te oorheers nie, maar ook nie om oorheers te word nie.
Gemeenskappe moet begin om bymekaar te leer en besef dat hulle eerder self moet doen as om op die regering te wag.
*Foto’s: Reint Dykema